Dieetkundige advies suig!

... en een skrywer het nou genoeg gehad van die kwaksalwers, die bedrieërs, die beterweters en die pedantiese wetenskaplikes

Laat ek van die staanspoor een ding baie duidelik maak: ek is geen dieetkundige nie.

Om die waarheid te sê was my laaste kennismaking met die biologiese sfeer in standerd sewe (en al wat ek daarvan kan onthou is die verskil tussen die pen- en sywortelstelsel en die kort dog opwindende lewensiklus van ‘n sywurm), so ek wil myself asseblief tog as geen kenner voorhou nie.

Maar liewe aarde, ek ís darem al ‘n ma in my laat dertigs met ‘n paar grade agter haar naam, ‘n goeie kop op haar skouers en baie (soms voel ek te veel!) lewenservaring, so waarom is dit vir my so moeilik om my gewig in toom te hou?
Ha. Vra dit.

Geen wonder ons is deurmekaar nie.

Die feit is dat daar ‘n duiselingwekkende aantal pseudo-wetenskaplike stemme daarbuite bestaan wat ons aanpor om óf geen stysel te eet nie, óf om stysel te eet maar geen vet nie, óf om vet te eet maar geen suiker nie, óf om nooit proteïen en stysel te meng nie, óf om dit absoluut áltyd te meng, óf om vyf ure tussen maaltye te wag, óf om elke uur iets te eet, óf om heeltemal te vergeet van dieet en net te oefen, óf om te vergeet van oefen en net te dieet, óf om meer vrugte en groente te eet, óf om minder vrugte en meer vleis te eet, óf om net lae GI kosse te eet, óf om van die GI indeks te vergeet en net kalorie inname dop te hou, óf om te vreet soveel jy wil en daarna ‘n wonderpil te sluk... En dis maar die oortjies van die seekoei.
Wie op aarde moet mens dan glo?

Dan is daar die natuurlik die ‘establishment’.

En nou praat ek van die ‘regte’ eksperte en gevestigde dieetkundiges – wetenskaplikes wat veronderstel is om hul hogere kennisvlakke aan te wend om ons gewonde sterflinge in ons daaglikse stryd teen die vetjies te help.

 ‘Veronderstel’ is dan ook die korrekte woord, want die waarheid is dat hierdie kenners maar bloot oor en oor dieselfde vervelige deuntjie sing, naamlik dat daar net één oplossing vir gewigsprobleme is.
Hul briljante advies?
Eet redelike porsies van ‘n wye verskeidenheid voedsame kosse, en maak seker dat jy genoeg fisiese aktiwiteit in jou daaglikse lewe inbou.

Asseblief!

Kyk, ek stry nie dat díe riglyn waarskynlik goeie raad is nie. Ek het my ‘natuurlike’ maer vriende al goed dopgehou, en bogenoemde beskryf hul lewenswyse relatief goed.

Maar kom ons wees realisties. Hierdie advies voorveronderstel eerstens ‘n redelike, rasionele, gematigde en verstandige houding teenoor kos.
En – liewe ouers! – as ek enige van daardie eienskappe gehad het, sou ek mos nooit in die eerste plek so vet geword het nie!

Die wrede realiteit...

...is eenvoudig dat daar miljoene mense soos ek bestaan. (Ek’s tog wraggies nie die enigste wat met hierdie probleem sukkel nie!) Ek weet maar alte goed ek moet geroosterde vis met groente (maar sonder tjips, of ‘n aartappel met suurroom...) bestel as ek uiteet. Ek weet ek moet die sagte wit broodrolletjies vermy, en veral die gladde, souterige botter daarmee saam. Ek weet ek moet net een glas wyn drink (verdun met soda nogal... praat van sonde!) en nie eers lóér na die kaas- of poeding trollie nie.

Ek wéét wat ek moet doen, om hemelsnaam. Ek’s vet, nie onnosel nie.
Maar doen ek dit ooit?

Hmf. Miskien as die perde horings kry, ja.

So wat nou?

Verlede week het ek berig dat ek keelvol is vir hierdie vet lyf van my. Dat ek my liggaam vir myself wil terugeis, en uiteindelik bereid is om iets daadwerklik aan my eie saligheid te doen.

Ek het boeke gelees, die internet deursoek, met vriende en kennisse gepraat, ‘n hele paar instansies gekontak, en die vloed van informasie wat daarna op my toegesak het, het my aanvanklik heeltemal verlam.

Dis nou totdat ek onthou het dat dit mý lyf is die. Dat ék daarvoor verantwoordelik is, en niemand anders nie.

In die verlede het ek al omtrent elke denkbare dieet gevolg. Elke keer het ek gebuig voor andere se wysheid, my lyf se lot aan andere oorgelaat, en in die proses my eie ‘common sense’, intuïsie en inherente kennis oor my eie liggaam en my eie eetgewoontes geïgnoreer.

Nie meer nie. Van nou af neem ek vir myself verantwoordelikheid.

Nou volg ek my eie kop. My eie lyf.

As ‘n sywurm immers in ‘n mot kan verander, het my innerlike skoenlapper seker darem ook ‘n kans.

Is jy ook siek en sat vir “kenners” se dieetadvies? Deel jou storie hier onder. 

Share this page (What are these?):

Read Women24’s Comments Policy

24.com publishes all comments posted on articles provided that they adhere to our Comments Policy. Should you wish to report a comment for editorial review, please do so by clicking the 'Report Comment' button to the right of each comment.

Comment on this story
21 comments
Add your comment
Comment 0 characters remaining
We reserve the right to maintain the quality of the discourse on the comments board as much as we can.
By posting comments you agree to our Terms & Conditions.
There are new stories on the homepage. Click here to see them.