Die woord bonsai beteken "plant in 'n
pot", en die kunsvorm is ongeveer
tweeduisend jaar gelede deur die
Chinese begin. Boeddhistiese monnike het
die kuns later Japan toe geneem, waar dit
verfyn en vervolmaak is en deel van die
Japannese kultuur geword het.
Bonsai is eintlik die kombinasie van
plantkunde en kuns – jy versorg jou boom
deur hom water te gee, te voed en te verplant
wanneer nodig, maar jy snoei en vorm hom
met 'n kunstenaarsoog sodat hy ingroei in
die perfekte miniatuurvorm van 'n volgroeide
boom in die natuur. Die eindproduk moet
soos 'n miniatuurweergawe van oerbome in 'n
woud of op die savanne lyk.
Bonsaikunstenaars hou vol dat die
stokperdjie nie baie tyd in beslag neem nie,
maar hulle waarborg dat as die gogga jou
eers gebyt het, jy nie sommer sal ophou nie.
Voeg daarby dat byna enige boom geskik is
vir bonsai, dan kan 'n mens verstaan dat die
versoeking g'n einde het nie.
Style
Bonsaibome word volgens ses klassieke
style geklassifiseer: formeel regop, informeel
regop, skuins stam, sambreel, semi-oorhang
en oorhang.
Suid-Afrika se bonsaikunstenaars is ook
van die min beoefenaars van dié eeueoue
tuinkunsvorm in die wêreld wat met
inheemse bonsai-style vorendag gekom het.
Hulle het bloot gaan kyk na kenmerkende
bome in verskillende streke in Suider-Afrika.
Die ses sogenaamde Afrika-style word
wêreldwyd erken en bewonder:
die kremetart-styl, met 'n besondere
dik stam
die Pierneef-styl, met sy kenmerkende
plat kroon
die Bosveld-styl, 'n regop boom met
sterk takke in 'n sigsagpatroon
die Wonderboom-styl, waar die takke van
die hoofboom grond toe buig en dan nuwe
stamme vorm, soos die beroemde boom
van Pretoria
die wildevy-styl, waarvan die takke lank
en die kroon sambreelvormig is
die platkroonstyl, wat ontstaan het uit
twee Acacias wat net in Afrika voorkom
Basiese versorging van jou bonsai
Water 'n Bonsai groei in 'n baie vlak
houer en sy wortelstelsel neem baie plek
in beslag. Daar is dus nie baie plek vir
grond of materiaal vir waterretensie nie,
daarom moet die boom gereeld water
kry. In warm weer behoort jou boompie
daagliks water te kry, en soms twee of drie
keer per dag. Baie bonsaikwekers plaas 'n
besproeiingstelsel wat met 'n tydskakelaar
werk by hulle boompies. Die grond moet
altyd klam wees, maar nie waternat nie.
Posisie 'n Bonsai hoort in die son, want
dit is waar die boom in die natuur groei.
Oggendson of gedeeltelike son onder 'n
boom is ideaal – middagson kan die boompie
uitdroog. Die boom kan vir 'n spesiale geleentheid
in die huis uitgestal word, maar dit
sal nie permanent in skaduwee oorleef nie.
Voeding Voed jou boompie elke twee
weke met 'n verdunde vloeibare voeding
soos Seagro.
Interessante bonsai-feite
Soos wat jou bonsai groei en jy hom snoei
en bewerk, sal die blare verklein totdat hulle
miniatuurblaartjies is – dit duur 'n rukkie.
Die blare van 'n boom wat vrugte of blomme
dra sal verklein, maar die vrugte of blomme
sal nie. Dit is dus beter dat jy hom nie toelaat
om vrugte te dra nie, want die swaar vrugte
kan takke breek en belemmer die groei.
Bessiebome soos die vuurdoring (Pyracanthasoorte)
werk goed, want hul vruggies is klein.
Moenie sommer net bome uit die veld
opgrawe nie, want as jy nie weet hoe nie, of
nie weet watse boom jy uithaal nie, kan die
boom dalk vrek, of jy haal dalk 'n bedreigde
spesie uit. Sluit liewer by 'n bonsai-klub
(ook genoem 'n bonsai kai) aan, waar
opleidingsessies gereeld aangebied word.
Bladwisselende bome maak pragtige
bonsai-bome, want die blaartjies verkleur
ook in die herfs.
Inheemse bome soos doringbome en
wildevye is veral geskik vir die Afrikastyle,
terwyl konifere en ander uitheemse
boomsoorte mooi lyk in die klassieke style.
Klik hier vir ons galery.