| KREATIEWE LEEFSTYL  
 
| TEKEN IN OP TUIS | ARGIEWE | CLICK FOR ENGLISH  
              TUIS WERKSESSIES NUUT GESELS SAAM GALERYE AGTER DIE SKERMS KOMPETISIES KONTAK ONS
 
 

'n Fliek in jou voorhuis

Die term "tuisteaterstel" – en veral om jou eie een saam te stel – laat baie mense bewe, en dís nie net van opgewondenheid nie. Tog is dit glad nie so ingewikkeld soos wat jy dink nie.

Jou eie tuisteaterstel sorg vir die beste van die fliekervaring in jou eie huis: Nie net het jy klank wat jou omring ("surround-sound") en reg in die middle van die aksie plaas nie, maar jy't ook 'n groot skerm, waarmee jy die kleinste detail kan sien en dus veel meer deel voel van die storie.

Daar is nie een spesifieke soort tuisteaterstel nie. Dis eerder 'n kombinasie van komponente waaruit jy kies en wat jou sak en lewenstyl pas. Die geheim is om te weet wat beskikbaar is én wat dié toestelle se sterk en swak punte is.

Dié maand fokus ons op wat jy moet weet om aan die gang te kom en kyk in diepte na televisiestelle.

Spring weg
Om 'n tuisteaterstel aanmekaar te slaan het jy die volgende nodig: 'n televisiestel, 'n klank/ video-ontvanger en versterker, 'n terugspeeltoestel soos 'n DVD- of videospeler, en 'n omringklank- luidsprekerstel.

Die klank/video-ontvanger en versterker het dieselfde doel as 'n ontvanger en versterker in 'n hoëtroustel. 'n Tuisteaterstel ontvang seine van toestelle soos 'n DVD- of videospeler, 'n M-Net- of DStv-dekodeerder óf van speletjietoestelle soos 'n Playstation 2. Daardie seine word dan "gelees" en versterk voordat dit na jou televisiestel en luidsprekers gestuur word.

'n Mens kry die ontvanger en versterker in een eenheid (dan word dit gewoonlik as 'n alles-in-een-tuisteaterstel verkoop mét al die luidsprekers), of jy kan al die komponente (klank/video-insette, 'n voorversterker, 'n omringklank- dekodeerder of seinprosesseerder, versterkers vir elke klankkanaal en uitsette) apart koop en 'n meer gesofistikeerde stel opbou.

Die kenners is dit eens dat dit die beste is om rond te snuffel en te weet waarna jy soek sodat jy die handelsmerk(e) van jou keuse teen die regte pryse kan kry. Intreevlak-items, teen meer bekostigbare pryse, is beskikbaar by winkels soos Game, Dion en Hi-Fi Corporation, terwyl middelvlak-toerusting by maatskappye soos Audio Vision in die Wes- Kaap of Hirsch's in KwaZulu-Natal en Gauteng te koop is. Hier is ervare personeel beskikbaar wat al jou tegniese vrae behoorlik sal kan antwoord. Natuurlik sal die gesofi stikeerde items 'n mens baie opgewonde maak, maar dis baie duur.

Die beeld
'n Mens kan uit 'n hele paar televisiestelle en projeksiestelle kies, elkeen met sy eie vooren nadele. Voordat jy enigiets koop, moet jy weet wat jy uit die stel wil kry, wat by jou lewenstyl pas en watter eienskappe vir jou die belangrikste is.

Konvensionele TV's
Konvensionele TV's gebruik die tegnologie van dekades gelede: die katode-straalbuis (CRT). 'n Mens moet twee faktore in ag neem as jy 'n konvensionele TV aanskaf – die platheid en die tempo waarteen dit verfris. Platter skerms sorg vir minder skittering en weerkaatsing, 'n wyer kykhoek en minder verwringing. Die meeste konvensionele stelle het 'n verfristempo van 50 Hz, maar sommige van die beter stelle spog nou met 'n tempo van 100 Hz: Die beeld is duideliker en die kleur veel ryker, maar jy kan jou maar regmaak om dubbel soveel op te dok daarvoor.

Voordele

  • Beproefde tegnologie.
  • Baie bekostigbaar.
    Nadele
  • Tegnologie is baie oud en raak uitgedien.
  • Flikkerings en skandeerlyne.
  • Neem baie plek op.
  • Nabygeleë luidsprekers en ander magnetiese toestelle kan beeldverwringing veroorsaak.
  • Verloor die helfte van die helderheid ná omtrent 25 000 uur.
  • Die fisieke grootte van die grootste stelle (gewoonlik omtrent 101 cm) is nie regtig geskik vir 'n ware tuisteaterstel nie.

    Projektors
    'n Projektor kan aan die plafon vasgemaak of op 'n tafel gesit word sodat jy die beeld op 'n skerm kan werp. Die gloeilamp se leeftyd is tussen 1 000 en 4 000 uur, maar 'n mens kán dit vervang. As jy op soek is na 'n projektor vir 'n tuisteater, moet jy bewus wees daarvan dat 'n hoë kontrasverhouding belangriker is as die ANSI Lumens-gradering. Die omgekeerde is waar vir projektors wat vir sakefunksies gebruik word.

    Voordele

  • Baie goedkoper as plasma of LCD.
  • Liggewig.
  • Jy kan dit monteer, rondskuif óf na 'n ander plek neem.
  • 'n Groot beeld.
    Nadele
  • Die beeldgehalte is baie swak as daar te veel lig in die vertrek is (dit lyk uitgewas).
  • Jy sal heel moontlik 'n elektrisiën se hulp moet inroep vir die installasiewerk.
  • Sommige projektors is raserig (vanweë die waaier),
  • Geen TV-instemmer nie.

    Truprojektortelevisie
    'n Mens kry verskillende soorte truprojektor- televisiestelle wat verskillende tegnologieë inspan om die beeld te vorm – waaronder CRT- en LCDtegnologieë – maar die eindresultaat is dieselfde: 'n Beeld wat binne-in die stel gevorm word, word van binne af op die skerm geprojekteer (vandaar die term "truprojeksie").

    Voordele

  • 'n Groot beeld, wat die beste geskik is vir 'n ware tuisteater-ervaring.
  • Dunner as CRT-stelle.
    Nadele
  • Neem baie plek op.
  • Skerm se helderheid is oneweredig.
  • Die "skermdeur-effek" (die beeldelemente van 'n LCD-projeksie-TV word in so 'n mate vergroot dat dit voel of jy deur 'n skermdeur TV kyk); hierdie probleem kry 'n mens nie met CRT- of DLP-stelle ("Digitale ligverwerking") nie.
  • Smaller kykhoek as LCD of plasma – mense wat aan die kante sit, sal dus 'n swakker beeld sien.
  • Die beeldgehalte is dikwels nie so goed as met 'n plasma- of LCD-TV nie.

    Plasma
    Sommige vervaardigers van die huidige geslag plasmaskerms maak daarop aanspraak dat die helfte van die leeftyd (wanneer die helderheid die helfte minder is) nou ná 60 000 uur aanbreek pleks van die 30 000 uur wat dit altyd was, maar dis miskien nie heeltemal in die kol nie. Jy sal vind die beeld verdwyn stadig – eers merk 'n mens dit nie op nie, maar ná 'n ruk sal die beeld al hoe meer uitgewas lyk. Dit kan nie reggemaak word nie omdat die edelgasse binne-in die stel nie aangevul kan word nie.

    Voordele

  • Geen flikkering en geen skanderingslyne nie.
  • 'n Wyer kykhoek as CRT, truprojektors en LCD-stelle.
  • 'n Perfekte plat skerm.
  • Minder gevoelig vir skerp en sagte ligtoestande (maar nie so goed soos LCD nie, veral as dit kom by skerp lig).
  • Beter algehele gehalte as LCD, veral as die skerm groot is.
  • Eenvormige helderheid op die skerm.
  • Uitstekende kleurakkuraatheid en -rykheid (veral in vertrekke met swakker lig).
  • Beter kontras en skakerings van swart as LCD.
  • Beter as LCD as die beeld vinnig vorentoe gespeel word.
  • Groter skerms as LCD.
  • Dun en ruimtebesparend.
  • Bestand teen magnetiese velde.
    Nadele
  • Duur.
  • Korter lewensduur as LCD.
  • Beeld word maklik "ingebrand".
  • Gebruik baie elektrisiteit.
  • Sommige modelle het nie luidsprekers of 'n ingeboude TV-instemmer nie.

    LCD ("Vloeikristalskerm")
    As jy 'n LCD-TV kies, moet jy die stippelspasiëring in ag neem. Hoe kleiner die stippelspasiëring, hoe skerper die beeld en hoe groter die kykhoek: Wees op die uitkyk vir 'n stippelspasiëring van 0,28 mm of minder. LCD-TV's hou veel langer as plasmaskerms – nie net breek die halfleeftyd eers ná 50 000-65 000 uur aan nie (hoewel sommige vervaardigers beweer dié syfer word "in beheerde toestande" tot 80 000 uur opgestoot), maar die TV se einde is ook minder merkbaar.

    "Dooie beeldelemente ('pixels')" – klein kolletjies op die skerm wat nie meer werk nie en ook nie herstel kan word nie – sal verskyn, maar die meeste mense sal dit nie agterkom nie. 'n Agterlig waarvan die jare aanstap, kan dalk die kleur beïnvloed en moet herkalibreer of vervang word, maar die meeste vervaardigers wil nie daaroor uitwei nie.

    Voordele

  • Geen flikkering of skanderingslyne nie.
  • 'n Wyer kykhoek as CRT en truprojektorstelle (maar nie plasma nie).
  • Perfekte plat skerm.
  • Minder gevoelig as CRT en plasma vir skerp en swak ligtoestande: LCD-TV's is perfek vir goed verligte vertrekke.
  • 'n Langer leeftyd as plasma.
  • Eintlik maar net inprop-en-speel.
  • Uitstekende kleurakkuraatheid en rykheid (veral in vertrekke met baie lig).
  • Perfek vir statiese beelde (ook dié van 'n rekenaar); die beeld word nie "ingebrand" nie.
  • Dun en plekbesparend.
  • Gebruik omtrent die helfte van die krag wat 'n plasmaskerm nodig het.
  • Hoër resolusie as plasma met dieselfde fi sieke grootte.
    Nadele
  • Duur – en dikwels duurder as plasmapanele wat net so groot is.
  • Die beeldgehalte is geneig om swakker te wees met skermgroottes van 94 cm (37 duim) en groter.
  • Skerms kan nie so groot wees soos plasma nie.
  • Kan nie die beeld so goed terugspeel teen vinnige spoed nie; dis beter met stilstaande beelde.

    Ken jou beeldterme
    Aansigverhouding ("Aspect ratio"): Dis die verhouding van die beeld se breedte teenoor die hoogte. 'n Konvensionele TV-beeld is 4:3 (vier eenhede breed en drie eenhede hoog – dis ook bekend as volskerm of 1.33:1), terwyl 'n wye skerm gewoonlik 16:9 (ook bekend as 1.78:1) is. Jy sal verskillende kombinasies van dié aansigverhoudings op die verpakking van DVD-spelers sien; dit is 'n aanduiding van watter formaat/formate van die beeld beskikbaar is.

    Inbrand: Dit gebeur as 'n stilstaande beeld te lank op die skerm bly en 'n permanente merk gelos word.

    Kontrasverhouding: Die verskil in die intensiteit van die lig tussen die swartste swart en die witste swart. Hoe hoër die verhouding, hoe beter. Die verhouding kan verskil as jy reg voor die skerm is of aan die kant.

    Volskerm: Die konvensionele 4:3-TV beeld. As jy 'n DVD koop waarop net die 4:3-verhouding genoem word, moet jy onthou die beeld is gesny om 'n konvensionele TV te pas en nie op 'n wyeskerm-TV nie.

    Verfristempo ("refresh rate"): Die verfristempo word in Hertz (Hz) gemeet en verwys na die aantal kere wat 'n beeld op die skerm verfris word. Hoe hoër die tempo, hoe beter is die beeldgehalte.

    Wye skerm: 'n Wye skerm verwys na die reghoekige vorm waarteen die meeste flieks verfi lm word. 'n Mens kry verskillende aansigverhoudings, maar die algemeenstes is 1.66:1, 1.78:1, 1.85:1 en 2.35:1

    Resolusie: Die aantal spikkels (of beeldeenhede – "pixels") wat 'n stel kan wys. Dit word weergegee as die horisontale getal maal die vertikale getal.

    Kykhoek: Die kykhoek beskryf hoe ver na links of regs jy van die middel van die skerm af kan sit en steeds die beelde op die skerm kan sien. 'n Horisontale hoek van 140° beteken jy kan steeds die beelde 70° na links en 70° na regs van die middel af sien. Sommige vervaardigers gee ook 'n vertikale kykhoek.

    Koopwenke

  • Scott Salusbury van Bang & Olufsen stel voor jy vergelyk individuele stelle in 'n winkel eerder as bloot individuele tegnologieë.
  • As jy 'n plasmaskerm koop, is die raad van Wessel Hattingh van Audio Vision dat jy in 'n handelsmerk belê wat oor die tegnologie beskik wat "inbranding" voorkom. Sodoende verleng jy jou paneel se lewe en verminder die uitwerking van inbranding. Die nuwer generasie plasmapanele is met dié funksie beskikbaar.
  • Maak altyd seker of die stel of skerm wat jy wil koop, 'n ingeboude TV-instemmer het.
  • Kenners beveel gewoonlik aan dat al jou komponente van dieselfde vervaardiger moet wees aangesien die verskillende toestelle ontwerp is om saam te werk. Dis veral belangrik as jy luidsprekers koop, maar dis ook aan te beveel dat jy dieselfde soort luidsprekers en versterker/ontvangerstel as jou televisiestel en DVD-speler kry.
  • Meet die diepte van die eenheid, maar ook die diagonale breedte om seker te maak die skerm pas in jou woonkamer in.

    Leer meer op die web

  • www.lcdtvbuyingguide.com
  • www.plasmatvbuyingguide.com
  • www.projectorcentral.com
  • Die afdeling "DVD FAQ" by www.play.com.
  • LEES ALLE DEKOR/SELFDOEN ARTIKELS »

    Home
    Free Newsletter
    Competitions
    ON WOMEN24
    REGULARS  
    Columnists
    Blogs
    Cartoons
    Find restaurants
    ABOUT WOMENS 24
    Terms and conditions
    Contact Us
    Advertising


    © home 2007. All rights reserved.