| KREATIEWE LEEFSTYL  
 
| TEKEN IN OP TUIS | ARGIEWE | CLICK FOR ENGLISH  
              TUIS WERKSESSIES NUUT GESELS SAAM GALERYE AGTER DIE SKERMS KOMPETISIES KONTAK ONS
 
 
   deur Ashley Stemmett

Maak 'n sjiek staanlamp

Beligting sorg vir atmosfeer en stemming in 'n vertrek. Ons wys jou stap vir stap hoe om twee heeltemal verskillende staanlampe te maak.

Die eietydse lamp
Inkopielys
  • 1 stuk gelamineerde dennehoutbord van 1 800 x 380 x 19 mm
  • houtlym
  • 30 mm-spaanderbordskroewe
  • houtbeits en vernis
  • 22 mm-flensplaatjie
  • 1 stuk verchroomde pyp van 1 400 x 22 mm
  • 5 m elektriese koord en 'n muurprop (Belangrik: Maak seker die elektriese koord wat jy koop, kan deur die buis gaan.)
  • elektriese koordsaals
  • gloeilampsok
  • voetskakelaar

    Wat het jy nodig?

  • maatband en potlood
  • uitsnysaag
  • band- of baanskuurder
  • koordlose boor
  • 8 mm-boorpunt
  • G-klampe
  • verdieper
  • pypsnyer
  • tang- of draadstroper

    So maak jy
    1. Merk sirkels met 'n 300 mmdeursnee op die stuk gelamineerde dennehoutbord van 1 800 x 380 x 19 mm.
    Wenk: Gebruik afvalstukkies om 'n eenvoudige passer te maak. Boor 'n 3 mm-gat vir 'n spyker, meet 150 mm van die gat af en boor nog 'n gat (omtrent 6 mm) vir die potlood. Sit die passer op die hout met die spyker in die middel (meet met die maatband om die middel te bepaal). Slaan die spyker liggies in die hout. Jy sal nou in staat wees om perfekte sirkels te trek.

    2. Gebruik die uitsnysaag om vier 300 mm-skywe uit die dennehoutbord te saag.

    3. Gebruik die houtlym om die vier skywe saam te lamineer sodat dit 'n basis vorm. Skroef elke skyf met die 30 mm-spaanderbordskroewe aan die een daaronder vas.

    4. Skuur dit met die band- of baanskuurder om die gesamentlike rand van die basis glad (en rond) te maak.

    5. Boor met die koordlose boor en 8 mm-boorpunt 'n gat in die middel van die basis – dis waar die elektriese koord moet deurgaan.

    6. Klamp die basis aan jou werkbank vas en sny met die verdiepboor 'n voortjie vir die elektriese koord in die basis.

    7. Beits en vernis die basis en laat dit heeltemal droog word voordat jy met stap 8 aangaan.

    8. Maak die flensplaatjie oor die gat vas.

    9. Maak die einde van die pyp netjies loodreg met die pypsnyer. Dit sal verseker dat dit regop binne-in die flensplaatjie staan. Steek die elektriese koord deur die pyp en druk die pyp styf in die plaatjie.

    10. Sit die gloeilampsok aan.

    11. Trek die koord deur sodat die gloeilampsok styf bo-aan die pyp sit. Maak dan die koord met 'n paar elektriese koordsaals onderaan die basis vas.

    12. Stroop 'n kort stukkie van die hulsel van die koord, ongeveer 200 mm van die basis, en sit die skakelaar aan.

    Die romantiese lamp
    Inkopielys

  • 'n klein sakkie klaargemengde sement
  • potplantpot of 'n soortgelyke (spitsvormige) houer
  • 10 mm-houttappen
  • 5 m elektriese koord en muurprop (Belangrik: Maak seker die elektriese koord wat jy koop, kan deur die kopergaspyp gaan)
  • ongeveer 3 m kopergaspyp
  • gloeilampsok
  • voetskakelaar
  • klein stukkie 0,5 mmaluminiumplaat
  • koper spuitverf

    Wat het jy nodig?

  • pypsnyer
  • tang of draadstroper
  • skêr of blikskêr
  • merkpen

    So maak jy
    1. Meng die regte hoeveelheid beton en gooi dit in die houer wat jy as vorm vir die basis van jou lamp gekies het. Steek 'n stuk houttappen in die pot (wat in die middel met 'n ander tappen vasgehou word). Dit sal as buis dien waardeur die elektriese koord gaan wanneer die sement hard is.
    Wenk: Smeer die tappen en pot met olie of ghries sodat dit maklik loskom as die sement hard geword het. Die sement kan ieder geval nog op plekke aan die pot vassit. Breek eenvoudig die pot om die gietstuk te verwyder.

    2. Maak seker die tappen is in die middel van die pot en draai dit nou en dan terwyl die sement hard word sodat dit later maklik verwyder kan word. Sny vir die koord 'n voortjie in die sement – voor dit hard is. Laat dit oornag droog en hard word.

    3. Steek die koord deur die koperpyp en basis sodra die gietstuk uit die houer verwyder en die tappen uitgetrek is.

    4. Buig die kopersteel van die lamp in interessante kurwes.

    5. Sny die einde van die pyp met die pypsnyer netjies loodreg. Sit die gloeilampsok en voetskakelaar aan (sien stap 11 en 12 van die vorige projek). Buig die passtuk met die tang oor die punt van die koperpyp toe om dit in posisie te hou.

    6. Gebruik die merkpen om die buitelyn van die kap op die aluminiumvel te merk.

    7. Knip die vorm met 'n skêr of blikskêr uit.

    8. Buig die skerm in sy vereiste vorm en spuit dit met koperkleurige spuitverf om dit af te rond.

    9. Buig die skerm om die gloeilampsok om dit in posisie te hou.

  • LEES ALLE DEKOR/SELFDOEN ARTIKELS »

    Home
    Free Newsletter
    Competitions
    ON WOMEN24
    REGULARS  
    Columnists
    Blogs
    Cartoons
    Find restaurants
    ABOUT WOMENS 24
    Terms and conditions
    Contact Us
    Advertising


    © home 2007. All rights reserved.