Terloops, die internasionale styl het van 1920 tot
1980 geduur, maar dié
begrip verwys dikwels na
die vroeë moderne beweging (1900-1933) waarop
ons in dié artikel fokus.
In die jare dertig is die
Bauhaus-gebou met sy
reuseglaspanele weens
politieke spanning gesluit.
Gropius en van sy kollegas
het na Amerika gevlug
waar hy (as professor
in argitektuur aan die
Harvard-universiteit)
en sy kollegas steeds
'n geweldige invloed op
die kunste gehad het.
Argitektuur
Die Bauhaus word vandag
nog as die belangrikste
ontwerpinstelling van die
twintigste eeu beskou.
Hulle het met glas en
staal begin eksperimenteer
sodat die buitewêreld deel
kon word van die leefruimte, soos die Switser
Le Corbusier wie se
"swewende" geboue deur
'n "geraamte" van pilare
ondersteun word. Vandag
is dit dié boumetode wat
dit so maklik maak om
woonstelle se binnemure
uit te breek.
Meubels
Die moderne meubels
het skoon lyne sonder
tierlantyntjies en weeg
min. Staal, geboë
chroompype en leer
is algemeen gebruik.
Argitekte soos Ludwig Mies
van der Rohe (1886-1969)
en Le Corbusier (1887-
1965) het dié meubels
ontwerp om by hulle
argitektuur te pas.
Art Deco (1920 – 1939)
Dié internasionale styl
het in die jare twintig
in Parys ontstaan.
Die term is 'n verkorting van
"Exposition Internationale des Arts
Décoratifs et Industriels Modernes"
(Internasionale Tentoonstelling van
die Dekoratiewe Kunste en Moderne
Nywerhede) , wat in 1925 in Parys
gehou is.
Hoe het dit begin?
Art deco is sinoniem met glans.
Ná die Eerste Wêreldoorlog
(1914-1918) het mense 'n behoefte gehad aan luukshede, en
in die jare dertig het dié styl sy
hoogtepunt bereik. Dié oordaad
was van korte duur, want in 1939
het die Tweede Wêreldoorlog
uitgebreek. Die inspirasie vir
art deco kom uit 'n geweldig
uiteenlopende verskeidenheid:
antieke Egipte,
tradisionele
stamkuns,
surrealisme,
futurisme,
die moderne
beweging en nog baie meer.
Argitektuur
Art deco-argitektuur word gekenmerk deur
luukse, elegante materiale en oordadige
detail soos hoë plafonne, geronde of vertikale
vensters, boog-en geometriese vorms en
beeldhoudetail. Die Chrysler-gebou in New
York is 'n beroemde landmerk, en plaaslik was
Kaapstad se stylvolle Ou Mutual-gebou (vandag
die luukse woonstelblok Mutual Heights) met sy
kenmerkende vertikale vensters op sy dag die
hoogste gebou in Suider-Afrika.
Dekor
Soos die argitektuur uit dié era word art deco-
meubels en -dekor aan hulle flambojante
detail en glans herken: Eksotiese houtsoorte is
gebruik met detail van luukse materiale soos
perlemoen en sagrynleer. Dieselfde geometriese
en geronde vorms van die argitektuur word
in meubels, glasvase en ander dekoritems
herhaal. Eileen Gray se bekende glastafel is 'n bekende dog eenvoudige ontwerp uit dié era. Die detail van die
asbakke uit dié era – toe rook nog
elegant was – is besonders.
Pop (1968 – 1972)
Die dekorterm "pop" verwys na
die populêre verbruikerskultuur
van die jare vyftig en sestig. Die
prettige items uit dié era word dikwels
bloot "retro" genoem.
Hoe het dit begin?
Mense was moeg vir die sober erns
van die vorige dekades se "goeie"
ontwerpe en "minder-is-meer"-denke.
Die verbruikerskultuur het vlam gevat
met advertensies en televisie, en dit
het ontwerpers soos Andy Warhol
(1928-1987) geïnspireer. 'n Kultuur van
"gebruik dit vandag, gooi dit môre weg"
het posgevat, en plastiek het gewild
geraak. En toe Neil Armstrong in 1969 sy
eerste treë op die maan gee, het televisies
en radio's skielik baie soos ruimtehelms
begin lyk. Die oliekrisis van die 1970's het
egter die einde van dié euforie beteken.
Dekor
Die na-oorlogse era van ekonomiese
welvaart en optimisme het uiting gevind
in reënboogkleure, strepe, sterk vorms
en geometriese motiewe. Die seksuele
revolusie se invloed kan gesien word in
meubelstukke met sensuele vorms, terwyl
kitsch en die ruimte-era ook 'n groot rol
gespeel het.
Maar hoekom so duur?
Baie van die meubels uit 'n spesifieke era, soos
art deco, modern of pop, is peperduur – selfs by
winkels wat tweedehandse meubels verkoop. Dié
stukke het oor die jare klassieke of kultusstatus
gekry en gesog geraak.
Baie van die oorspronklike stukke word onder
lisensie volgens sekere spesifikasies vervaardig.
Die Barcelona-stoel kan byvoorbeeld uitgeken
word aan Mies van der Rohe se handtekening
op die agterste poot. Hiervoor dok jy meer as
R33 000 op vir die oorspronklike, terwyl winkels
soos Linear Furnishings en Loads of Living die
namaaksel vir vanaf R6 000 verkoop.
Dit werk dus min of meer soos 'n Billabong-
T-hemp: Die namaaksel uit China kos altyd baie
minder as die regte een. En jy weet hoekom,
maar dis 'n debat vir 'n ander dag.
Kliek hier hier vir ons stylvolle dekor galery.