skuurpapier
Besoek ons galery vir instruksies
So maak jy
Voor: Die komvenster in dié kamer is nie "diep" genoeg vir 'n stoel of rusbank nie en daar is ook geen bêreplek nie. Dis die perfekte plek vir ons komvensterbank wat ekstra sit en bêreplek sal verskaf.
Meet eers: Meet die ruimte waar die komvensterbank gaan staan en neem dan die mates na jou houtverskaffer wat sal help om
'n inkopielys vir jou behoeftes saam te stel. Ons inkopielys is net 'n riglyn.
1. Meet en merk die posisie van die voorste basisplank – ons s'n was sowat 550 mm van die agterste muur sodat die sitplek (610 mm breed) effens kan oorhang.
2. Saag een van die 2 400 x 44 x 22 mm–stukke in die regte lengte en kap dit vas. Ons het spykers gebruik om die basisplanke deur die mat vas te kap sodat die bank later maklik verwyder kan word.
Wenk: As jy die komvensterbank as permanent beskou en dalk later die vloerbedekking wil verander, moet jy eerder die stuk tapyt onder die bank wegsny en die basisplanke direk op die vloer vaskap.
Moet nooit 'n boor of skroewe op tapyt gebruik nie – die boordery trek die matvesels stukkend.
3. Gebruik 'n lugbelwaterpas om die vertikale lyne aan al twee kante teen die muur te merk – dit moet in lyn wees met die voorste basisplank. Boor gaatjies vir die muurproppies.
4. Sny twee stutplanke uit 'n 2 400 x 44 x 22 mm–plank en gebruik die lyne as gids om dit teen die muur vas te skroef. Die hoogte van die vloerlys en stutplanke behoort saam 445 mm te wees – dis die hoogte van die voorste paneel.
5. Gebruik die waterpas om 'n lyn te trek van die bokant van die stutplanke na die agterkant. Sny nog stukke uit die basisplanke en gebruik die lyn as gids om dit teen die muur vas te skroef.
6. Voordat jy die laaste stuk teen die agterste muur vasskroef, moet jy eers weerskante stukkies van 22 x 44 mm uitsny. Dis belangrik vir stap 12.
7. Meet die gelamineerde dennehout vir die voorste paneel en sny dit met die sirkelsaag (stel die gids op 45°) in die regte lengte.
8. Meet die stukke wat weerskante van die voorste paneel verwyder moet word om plek te maak vir die vloerlys.
9. Stel die gids van die uitsnysaag ook op 45° en sny dié stukke uit die voorste paneel.
10. Smeer genoeg houtlym teen die stutplanke voordat jy die voorste paneel op die regte plek sit.
11. Skroef die voorste paneel met spaanderbordskroewe vas.
12. Gebruik die orige 44 x 22 mm–planke om nog twee stutplanke uit te sny en skroef dit vas (soos op die foto). Dié planke, wat ekstra steun verskaf, moet pas in die gate wat in stap 6 gesny is.
13. Gebruik 'n verstelbare teken–driehoek om die hoek te meet waarteen die mure na agter loop.
14. Merk dieselfde hoeke op die gelamineerde hout vir die sitplek.
15. Gebruik die sirkelsaag om die planke teen dié hoeke te saag.
16. Opsioneel: Gebruik 'n verdieper met 'n randboorpunt om die voorste rand van die sitplek halfrond te maak, of span 'n baanskuurder en skuurpapier in.
17. Skroef 'n afvalstukkie hout net onder die voorste rand van die sitplek vas. Dit moet net–net agter die voorste paneel pas om te keer dat die sitplek vorentoe gly.
18. Sit die sitplek in posisie.
19. Vul al die sigbare skroewe en kwasgate met houtvulstof van goeie gehalte.
20. Skuur al die rande glad, asook die sitplek.
21. Rond die komvensterbank af deur dit in die kleur van jou keuse te verf – ons het ons s'n afgewit om by die bestaande wit afwerking in die slaapkamer te pas.
Wenk: Die maklikste manier om 'n afgewitte voorkoms te verkry is om eenvoudig die verf (dit moet akriel–PVA wees) met 'n droë lap in die hout te vryf.
Besoek ons galery vir instruksies