Slim met gordyne
Gordyne bly een van die gewildste keuses vir vensterbedekkings. Dit kan 'n dramatiese óf rustige, formele óf ontspanne voorkoms in 'n vertrek skep. Volgens Lizchen Swart, binneversierder van Durbanville in die Kaap, werk gordyne in die algemeen goed in groter vertrekke, hoewel elke huis, vertrek en eienaar verskil. Mense wat van 'n meer tradisionele of klassieke gevoel hou, verkies dikwels gordyne bo blindings.
Gordyne werk veral goed by vensters of skuifdeure wat gereeld oop- en toegemaak word, want blindings kan maklik deur wind of gedurige oop-en-toemaak beskadig word.
Koop of pasgemaak?
As jy standaardgrootte vensters het en jou begroting is beperk, kan jy gerus gordyne koop. Winkels koop klaar gordyne by die groot maat aan, daarom is dit meer kostedoeltreffend. Dis ook beter om gordyne vir 'n kinderkamer te koop as om dit te laat maak, want daar is 'n groot verskeidenheid beskikbaar en dis goedkoper om dit elke paar jaar te vervang soos jou kind ouer word, sê Lizchen. As jy koop, moet jy seker maak jy koop die regte gordyne vir die regte vertrek. In die TV-kamer en slaapkamer is dit beter om dik en donker gordyne te hê wat lig heeltemal uitsluit as dit toegetrek is. Maak ook seker jy het die regte mates vir die breedte en hoogte van vensters of skuifdeure, anders koop jy dalk gordyne wat te smal of te lank is. Lizchen sê sodra 'n mens aan 'n klaargemaakte gordyn moet begin werk sodat dit op 'n venster pas, is dit beter om gordyne te laat maak. Baie mense maak ook die fout om standaardbreedte gordyne voor 'n breë venster of skuifdeur te hang en dit dan bloot minder styf in te ryg. Maar dit lyk baie suinig. Spaar eerder tot jy kan bekostig om gordyne te laat maak, selfs al is dit net vir jou leefvertrek en slaapkamer. Pasgemaakte gordyne is uniek en is 'n manier om jou persoonlike stempel af te druk. Maar onthou, daar moet net so goed nagedink word oor die keuse van gordyne as die aankoop van 'n meubelstuk, aangesien jy vir baie jare daarmee moet saamleef.
Klik hier om die galerye te besoek vir meer venster-inspirasies.