| KREATIEWE LEEFSTYL  
 
| TEKEN IN OP TUIS | ARGIEWE | CLICK FOR ENGLISH  
              TUIS WERKSESSIES NUUT GESELS SAAM GALERYE AGTER DIE SKERMS KOMPETISIES KONTAK ONS
 
 

Magies Marokkaans

Dié land in Noord-Afrika, met sy bergagtige en woestynlandskap, inspirer ontwerpers en argitekte die wêreld oor. Kom put uit ons eklektiese versameling dekor-elemente vir jou huis.

Ontsluier die betowering
Marokko is 'n magiese, mistieke land ryk aan Afro-Spaanse stylinvloede wat weerspieël word in 'n eklektiese mengsel van mitiese en godsdienstige elemente en helder kleure. Elke asemrowende gebou is 'n argitektoniese wonder wat drup van die sjarme en mistiek van ou, vergete tye.

Meubels met ingewikkelde handkerfwerk, en keramiekware ryklik versier met sterk geometriese ontwerpe in 'n rits helder kleure, is kenmerkend van die streek en sy mense. Marokkaanse dekor is sensueel en romanties, met ryk teksture, kleure en patrone wat tydlose skoonheid in sy aardse etnisiteit verseker.

Kry die voorkoms
1 Agter die gordyne
Drapeersels voor deure, ingange, vensters en oor beddens is tipiese elemente wat suiwer sagtheid en sensualiteit aan 'n ruimte gee. Gebruik deurskynende stowwe in helder kleure wat liggies in 'n briesie roer en net genoeg lig deurlaat om vir misterieuse betowering te sorg.

2 Teen die mure
Muurkleure kry hul inspirasie hoofsaaklik uit die woestynlandskap. Hoewel lewendig, is die kleure effens gedemp, wat vir 'n harmonieuse vloei van binne na buite sorg.

Tadelakt is 'n waterdigte kalkpleister wat met mineraalpigment gekleur word, met 'n rivierklip gepoleer en daarna met olyfolieseep gladgemaak word. Dis tradisioneel op binneen buitemure en -oppervlakke aangewend, en kan gebruik word om mure, plafonne, vloere, wasbakke, storte en baddens soomloos af te rond.

3 Eklektiese kuns
Kunswerke kom dikwels voor in die vorm van unieke elemente soos funksionele items, geverfde teëls en heilige simbole. Sommige aspekte van die Marokkaanse styl kan amper as ongekunsteld beskryf word – kyk byvoorbeeld na die ou geroeste wasters wat hier as tekstuurryke agtergrond vir die versierde kruis gebruik is.

4 Dis in die detail
Jy word dikwels verras met treffende detail: 'n weelderige tossel aan 'n deurslot verplaas jou dadelik na 'n ander wêreld.

5 Natuurlik in konteks
'n Mengsel van natuurlike materiaal soos leerpoewe, wolkelim-kussings en hout werk altyd goed saam, en die fyn versiering van elke getekstureerde item verleen 'n unieke bekoring aan dié styl.

6 Aardse tradisie
'n Berbermat kan enigeen van 'n verskeidenheid matte wees wat in styl en voorkoms herinner aan dié wat die Berbers van Noord- Afrika tradisioneel, selfs so lank terug as die paleolitiese tydperk, van handgespinde, natuurlike vesel geweef het. Dié inwoners van Noord-Afrika (die Europeërs het hulle gedurende die Middeleeue More genoem) het wes van die Nylvallei gewoon. Vandag woon sowat 14 tot 25 miljoen Berbers steeds in die streek, die meeste in Marokko.

Het jy geweet?
Wol was eeue lank die enigste vesel wat Berbers vir hul matte gebruik het. Al kleure wat beskikbaar was, was ligte natuurlike en neutrale skakerings, anders as die donkerder kleure wat ons daarmee vereenselwig. Deesdae kry jy Berbermatte van nylonen olefienvesels, maar steeds met 'n pluispool en gewoonlik met donker vlekkies oor 'n ligte agtergrond.

LEES ALLE DEKOR/SELFDOEN ARTIKELS »

Home
Free Newsletter
Competitions
ON WOMEN24
REGULARS  
Columnists
Blogs
Cartoons
Find restaurants
ABOUT WOMENS 24
Terms and conditions
Contact Us
Advertising


© home 2007. All rights reserved.