1 Baie tuinblomme
Blomme in lentekleure gee 'n
landelike en huislike gevoel.
Die ideaal is jou eie
tuinblomme, soos pronk-ertjies,
ons blom van die maand
(sien ook bladsy 73).
2 Neoklassiek
Geroeste vase dra by tot die
neoklassieke styl, wat inspirasie
put uit antieke kulture.
Soortgelyke vase in verskillende
vorms is te kry by Osiers en
Wetherlys, en Peppino Cement
maak sementreplikas van
antieke ornamente.
3 Spieëls
Spieëls bring 'n tikkie van
Versailles se glans en glorie.
'n Ou spieël, of een met 'n
baie dekoratiewe raam, sorg
vir ekstra karakter.
4 Vloere
Begin met 'n goeie basis soos
'n vloer van parket, klip of
sement. Bedek dit met 'n
verweerde Persiese mat.
5 Monochroom
Bou jou vertrek met 'n
monochrome palet en gebruik
spatsels sagte kleur vir aksente.
Skakerings van grys, gebroke
wit en klipkleure werk goed.
6 Beligting
'n Kandelaber met kerse of ligte
wat van die plafon af hang, of 'n
kandelaar, 'n regop staander vir
kerse, dra by tot die romantiese
atmosfeer. Kies kristalbehangde
items van dowwe en verweerde
metaal of geroeste wit.
7 Detail
Druk jou eie stempel af met
ornamente. Hier verleen
delikate beeldjies, soos die
twee metaalvoëltjies onder die
glaskoepel, en die verweerde ou
boeke nostalgie aan die vertrek.
8 Dekoratiewe
meubels
Kies oorspronklike of replikas
van Franse meubels met
mooi detail en fyn lyne
en pote. So nie kan jy ou
donkerhoutmeubels met die
regte verftegnieke oorverf.
9 Katoen
Katoen in uitgewaste kleure
hou die vertrek ontspanne en
onopgesmuk. Kies warm gryse,
roomkleure en toile vir die eg
Franse voorkoms. Toile is wit
of naaswit lap met herhalende
eenkleurige uitbeeldings van
landelike tonele, dikwels van
agttiende eeuse hofmakery, of
Chinese motiewe. Bly weg van
strooikussings.