| KREATIEWE LEEFSTYL  
 
| TEKEN IN OP TUIS | ARGIEWE | CLICK FOR ENGLISH  
              TUIS WERKSESSIES NUUT GESELS SAAM GALERYE AGTER DIE SKERMS KOMPETISIES KONTAK ONS
 
 
   deur Marian van Wyk

Slim met min

As 'n mens die eerste keer huis koop, moet jy jou dekorrande soms ver rek. Ons gee raad met die koopproses, asook sakpasdekorwenke vir 'n alleenloper, 'n paartjie en 'n gesin.

Alleenloper
Min dinge is meer opwindend as om jou eerste blyplek te koop. As jy boonop 'n alleenloper is, het jy 'n unieke voordeel: jy kan jou nuwe plek heeltemal na jou eie smaak en behoeftes inrig, sonder om enigiemand in ag te neem. Karakters soos Alfie, Bridget Jones en die meisies van Sex and the City het immers vir ons gewys hoeveel pret alleenlopers kan hê.

Maar eers is daar die Groot Soektog: nie net vir die regte blyplek nie, maar veral vir een wat jou sak pas én 'n goeie belegging sal wees.

Wanneer moet jy koop?
Dié vraag is nie maklik om te beantwoord nie. As jy nie 'n los miljoen of twee in kontant of 'n vet trustfonds het nie, gaan daar nie 'n "makliker" kooptyd aanbreek nie. Die kort antwoord is dus: hoe gouer, hoe beter.

'n Eie blyplek verhoog jou lewensgehalte, want niemand kan skielik die reëls verander, jou kontrak beëindig of op 'n Sondagmiddag kom skouhuis hou wanneer jy net in vrede met 'n boek wou uitspan nie. Boonop sien jy nooit weer die geld wat jy aan huur bestee nie, want in werklikheid betaal jy iemand anders se verband af. En hoe langer jy die kopery nou uitstel, hoe duurder (en moeiliker) gaan dit word, want ongelukkig styg eiendomspryse en salarisse nie teen dieselfde koers nie

Waar moet jy koop?
Eiendomskenners sê altyd 'n mens moet die kleinste of onaantreklikste blyplek in die beste buurt koop. As jy 'n alleenloper is, is goeie sekuriteit byvoorbeeld belangriker as goeie skole. Kies 'n buurt met mense van jou ouderdomsgroep en lewenstyl: as jy 'n partytjiedier is, gaan jy nie tuis voel in 'n plek waar al die huise saans na negeuur donker is nie. Neem ook die verkeer werk toe in ag.

Sakpas-dekorwenke vir alleenlopers
Die woonstel op ons foto's is die perfekte alleenloper-plek: dis kompak (sowat 45 m2), en danksy die elegante tweedehandse retromeubels word styl en gerief nie afgeskeep nie.

Struktureel
Die eienaar het 'n paar slim strukturele veranderings aangebring om dié kompakte blyplek te vergroot:

  • Mure is uitgebreek om die leefruimte te vergroot en die balkon is daarby ingesluit.
  • Daar is geen binnedeure nie, behalwe by die badkamer. Skuifdeure is ook 'n oplossing in 'n klein ruimte, want standaard-binnedeure neem heelwat ruimte in beslag.

    Vloere en muurafwerking
    Die mure is oral in dieselfde ligte kleur geverf en die oorspronklike parketvloere is afgeskuur en mooi vernis.

    As jy ou parketvloere opknap, kan jy ekstra houtblokkies tweedehands aanskaf. Soek by handelaars in tweedehandse boumateriaal, sloopwerwe en in jou koerant se snuffelbladsye. Plaas die nuwe blokkies plek-plek tussen die ou blokkies sodat jou vloer nie gelap lyk nie. Jy kan ook die hele vloer donker beits om 'n eenvormige voorkoms te kry.

    Meubels
    As jou begroting knap is, kan jy jou rande rek met 'n retro-styl en tweedehandse meubels, soos op ons foto's. Dit verg egter 'n bietjie moeite om so 'n stylvolle voorkoms tweedehands te kry:

  • Wees op die uitkyk vir stukke met klassieke lyne en 'n goeie, stewige struktuur.
  • Moenie dat geskeurde of vuil stoffeerwerk jou afskrik nie. Dit kan oor gedoen word, soos die wit vinielstoffeerwerk op ons foto's.
  • Hou by 'n eenvormige styl of era. Die retromeubels op ons foto's kom hoofsaaklik uit die jare sestig en sewentig. Dit kan met nuwe bykomstighede opgedateer word.
  • Wanneer dit by tafels en koffietafels kom, is die pote baie belangrik omdat dit heelwat omtrent die styl verklap. Die blad kan maklik met nuwe glas of hout vervang word indien die oorspronklike dalk erg beskadig is.

    Bykomstighede
    Vase, oorgooidekens en strooikussings in die nuutste modekleure gee tweedehandse meubels 'n vars, kontemporêre voorkoms. Klop aan by bekostigbare winkels soos @home, Ackermans Home Comforts, Clicks en Mr Price Home.

    As een 2 word...
    Wanneer rentekoerse styg, moet mense wat die eerste keer 'n huis koop gewoonlik 'n kleiner plek aanskaf. En wanneer jy later die liefde van jou lewe ontmoet, is dié blyplek dikwels net te beknop vir twee mense.

    'n Huishouding waarin albei mense werk, kan gewoonlik wel 'n groter eiendom bekostig. En as jy nie eiendom in jou alleenloperdae gekoop het nie, is dit dalk nou binne jou bereik.

    Dit help baie as jou papierwerk reeds agtermekaar is wanneer jy die dag die perfekte blyplek kry. Ou Mutual Bank gee dié wenke:

  • Maak seker jou kredietrekord is in orde: Skuld gaan eenvoudig nie vanself weg nie. Betaal al jou rekeninge betyds sodat jy 'n skoon kredietrekord opbou.
  • Doen jou somme: Stel 'n staat op van jou inkomste en uitgawes sodat jy weet wat die huispaaiement is wat jy kan bekostig. Die banke laat gewoonlik 'n paaiement van 30% van jou bruto inkomste toe.
  • Kry 'n vooraf goedgekeurde leningsertifikaat: Tydens dié proses doen jy reeds voordat jy wil koop by 'n bank aansoek om 'n lening. As alles goed gaan, kry jy dan 'n skriftelike bewys van die lening waarvoor jy kwalifiseer.
  • Wees realisties: Dis nie altyd 'n goeie idee om die grootste lening waarvoor jy kwalifiseer uit te neem nie. Saam met huiseienaarskap kom daar ander uitgawes, soos versekering, munisipale rekeninge, onderhoud en herstelwerk.
  • Beplan vir die onverwagse: Daar kan iets onvoorsiens gebeur nes jy jou laaste sente vir jou nuwe blyplek se oordragkoste bymekaargeskraap het: 'n stukkende geiser of diefalarm. Dis 'n goeie idee om 'n noodfonds vir sulke gebeurtenisse te hê.

    Kyk voor jy koop
    Die meeste mense is maar platsak nadat hulle eiendom gekoop het. 'n Huis met baie werk laat dalk jou selfdoenvingers jeuk, maar kan ook jou begroting verwoes. 'n Huis hoef natuurlik nie perfek te wees wanneer jy dit koop nie; jy moet net seker wees jy kan dit bekostig en weet waarvoor jy jou (geldelik) inlaat. Nedbank raai kopers aan om na die volgende op te let: veiligheidshekke, alarm en diefwering vloerafwerking verfwerk lekplekke en krake plafon fondamente rioolstelsel elektrisiteit (veral in ou huise) vensterrame en deure plaveisel houtwerk swembad loodgieterwerk tekens van vogprobleme

    Sakpas-dekorwenke as een 2 word
    Die oopplan-uitleg van die huis op ons foto's is perfek vir mense sonder kinders: daar is net een slaapkamer wat beteken die leefvertrek is ekstra groot, en ideaal vir 'n moderne, minimalistiese styl.

    Struktureel
    Al die mure is nie tot teenaan die plafon gebou nie. Dit sorg vir die maksimum natuurlike lig en bespaar boukoste. Die enkele binnemure is droëmure van Rhinowall, en al die elektriese bedrading en loodgieterwerk is in dié mure. Dit is maklik om te installeer (die Gypsum Academy kan jou tydens 'n eendagkursus leer), en dis 'n vinnige boumetode wat arbeidkoste bespaar.

    Droëmure is nuttig wanneer mense se behoeftes verander. Een groot vertrek kan byvoorbeeld in twee verdeel word, sonder ontwrigtende, stowwerige bouwerk. Die oop dakbalke skep 'n gevoel van ruimte. Die IsoBoard-plafonne is 'n kostedoeltreffende keuse: dit bied goeie isolasie en 'n esteties bevredigende afwerking.

    Vloere en muurafwerking
    Afgewitte dennehout is vir die vloere gebruik. Houtvloere is 'n duursame, tydlose keuse, en as jy moeg word daarvoor, kan jy die voorkoms met 'n verskeidenheid beitsprodukte soos dié van Genkem, Woodoc of Plascon verander. Earthcote Limestone verskaf 'n getekstureerde muurvoorkoms.

    Meubels en bykomstighede
    Wanneer twee alleenlopers se besittings saamgegooi moet word, kan dit 'n deurmekaarspul afgee – om nie te praat van huismoles nie. Beplan dus jul nuwe blyplek saam sodat albei tuis voel.

    'n Mens hoef nie dadelik oral meubels te hê as jy in 'n groter plek intrek nie. Kies 'n paar goeie, basiese meubelstukke om mee te begin; die res kan later kom – as dit nodig is. In 'n oopplan-blyplek is minder regtig meer: meer beweegruimte, meer opsies met meubelplasing, meer lig.

    Jy kan jou rande rek selfs as jou styl modern is. Die houttoonbank in die badkamer en die oorgetrekte sponsmatras wat in die slaapkamer as kopstuk dien, is goeie voorbeelde. 'n Verskeidenheid bekostigbare opsies vir vensters is by winkels soos Mr Price Home en Decorland (in Gamewinkels) te kry.

    As twee 4 word...

    Wenke vir Huissoekers
    Wanneer 'n mens nie meer 'n alleenloper is nie, verander behoeftes dikwels. Miskien droom een van julle daarvan om 'n eie sake-onderneming by die huis te begin, of dalk wil julle nog kinders hê. Hoe dit ook al sy, dink na oor jul behoeftes – in die hede en die toekoms – voordat julle koop. Nedbank gee dié wenke vir diegene wat huis soek:

  • Gerief: Kyk hoe ver julle sal moet ry na skole, winkels, dokters, ens.
  • Blootstelling: Stel vas wat die geraasvlakke (vliegtuie, bure en verkeer) is, of daar lugbesoedeling is, of die buurt dalk deur sterk wind geteister word, en of daar ondergrondse water is.
  • Toestand van die buurt: Lyk die strate en die ander eiendomme darem netjies?
  • Veiligheid: Vra uit oor die voorkoms van misdaad.
  • Ontwikkeling: Stel vas of skole, winkelsentrums, sokkerstadions of groot padbou beplan word.

    Sakpas-dekorwenke as twee 4 word
    Wanneer 'n gesin groei, groei almal se behoefte aan ruimte terselfdertyd. 'n Groter blyplek beteken natuurlik groter uitgawes, en daarmee saam kom die uitdaging om jul nuwe huis met 'n sakpas-begroting so mooi moontlik te maak.

    Struktureel
    In 'n ou huis soos die een op ons foto's is dikwels heelwat strukturele werk nodig om 'n gesinsvriendelike leefruimte te skep. Mure is uitgebreek sodat 'n oopplanleefvertrek ingerig kan word, en 'n nuwe kombuis is aangebou.

    As jy 'n ouer huis oorweeg, hou altyd in gedagte dat dit 'n heeltemal ander gevoel sal kry indien jy mure uitbreek: die vertrekke sal dadelik soveel ligter, groter en geselliger wees. Wees ook op die uitkyk vir oorspronklike argitektoniese detail, soos 'n werklike mooi kaggel.

    Vloere en muurafwerking
    Die oorspronklike houtvloere is herstel, en die aangeboude kombuis kry teëlvloere – 'n kindervriendelike, bekostigbare keuse. Volvloermatte is steeds die bekostigbaarste vloerbedekking en is besonder kindervriendelik: oorweeg dit as jou nuwe blyplek nie mooi houtvloere het nie. Die nuwe reekse kan maklik skoongemaak word en daar is ook verskeie vlekbestande opsies.

    Die mure is afgewerk met BPB Gypsum se Cretestone – dit kan gebruik word om onegalige pleisterwerk of 'n outydse stippelafwerking weg te steek. Dit kan geverf of ongeverf gelaat word.

    Meubels
    Die huis op ons foto's het 'n eenvormige, individualistiese styl wat tog kindervriendelik is.

    As jy meubels tweedehands koop, is soliede hout 'n goeie keuse: jy kan heelwat doen met 'n bietjie skuurwerk en vernis, om nie te praat van toorkunsies met die verfkwas nie!

    Wees geduldig, want dit kan jare duur en heelwat versamelwerk verg om 'n styl soos op ons foto's te bewerkstellig.

    Bykomstighede
    Verweerde portretrame, optelgoed soos dryfhout en rivierklippies en allerlei vondse soos waaiers en erdewerk is ideaal vir 'n "shabby chic"-styl. 'n Moderne glasvaas hier en daar helder dié styl op.

    Kliek hier vir ons galery.

  • LEES ALLE DEKOR/SELFDOEN ARTIKELS »

    Home
    Free Newsletter
    Competitions
    ON WOMEN24
    REGULARS  
    Columnists
    Blogs
    Cartoons
    Find restaurants
    ABOUT WOMENS 24
    Terms and conditions
    Contact Us
    Advertising


    © home 2007. All rights reserved.