Kliek hier vir ons galery.
Suid-Afrikaners kuier graag buite wanneer hulle vakansie hou, en 'n lekker
stoep of houtdek waarmee jy die leefruimte na buite kan vergroot, is eintlik
al sinoniem met vakansiehuise.
Groot skuif- of Franse deure sorg vir 'n gesellige vloei van binne na buite
sodat jy die stoep en leefruimte binne soos een groot kuierplek kan inspan.
As jy boonop jou meubels binne só plaas dat dit die uitsig tot sy reg laat
kom, dra dit by tot dié gesellige vloei. Neem net die voeteverkeer in ag
wanneer jy die meubels rangskik, sodat niemand met 'n bak braaivleis
op pad stoep toe neerslaan nie.
'n Mens wil jou ook nie afsloof wanneer jy vakansie hou nie – en dis
iets om in ag te neem wanneer jy sekere boumateriale of afwerkings kies.
'n Houtdek van 'n harde houtsoort soos balau sal baie duursaam en
weerbestand wees én dit verg boonop die minimum instandhouding.
Wanneer jy buitemeubels kies, moet jy onthou dit moet weer iewers
gebêre word as julle huis toe gaan. Vermy dus swaar, bonkige meubels as
jy dit ver of by trappe op moet dra.
'n Mobiele braai-eenheid is 'n oplossing as jy min plek het. Kontak
Weber, Chad-O-Chef of Thuros Trading vir 'n verskeidenheid wat met
gas, hout of steenkool werk.
Leef en eet
Hou dit maklik en bekostigbaar
Jy hoef nie 'n duur kombuis te laat inbou
nie. Toonbanke van ColTimbers
(te koop by groot ysterwarewinkels soos
Mica, Timbercity en De La Rey) en oop
rakke, soos op ons foto's, is ideaal vir
'n vakansiehuis. Rottangmandjies kan
maklik onder 'n toonbank ingeskuif word
en hou die kombuis netjies. 'n Kombuiseiland
op wiele kan buitentoe gestoot word
wanneer julle braai.
Meubels en bykomstighede
'n Vakansiehuis se dekor moet ontspanning
uitstraal. Growwe teksture soos hout en
rottang, bykomstighede soos dryfhoutrame
en 'n koel wit-en-blou of tropiese kleurskema
sê dadelik "dis vakansie en hier
ontspan ons".
In 'n vakansiehuis wil jy jou nie bekommer
oor meubels wat gaan deurloop
onder vuil voete en braaivleishande nie.
Tweedehandse meubels kan oorgetrek
en geverf word vir 'n vars voorkoms, en
oorweeg los oortreksels wat jy in die wasmasjien
kan gooi. Biggie Best en Halogen
International het ontwerpe wat baie goed
werk in strandhuise.
Veeldoelige meubels soos 'n slaapbank
wat snags in 'n bed verander kan word,
opstapelbare stoele en 'n nes van tafels wat
onder mekaar kan inskuif, is nuttig as die
kroos met 'n string maats huis toe kom.
Vakansiekleure
Seekleure soos die blou-en-wit op ons
leefvertrekfoto's is nie net tradisionele
strandhuiskleure wat 'n rustige atmosfeer
skep nie; dis ook 'n tydlose kleurskema vir
gewone huise en skep op warm somerdae
'n koel atmosfeer.
Tropiese kleure soos helderoranje en
pienk herinner aan eilandvakansies en
'n prettige karnaval-atmosfeer. Dis vrolike
aksentkleure vir 'n neutrale kleurskema.
Bad
Vakansiehuise het dikwels net een badkamer
– een van die eenvoudigste en
bekostigbaarste oplossings is 'n buitestort
(blaai om vir 'n foto). Boonop kan jy só van
die lastige seesand ontslae raak voordat jy
weer die huis ingaan.
Gebruik oop rakke in die badkamer om
skoon bad- en strandhanddoeke te bêre waar
die hele familie dit kan bykom en maak seker
daar is genoeg hangplek vir klam handdoeke.
Teëlvloere is goedkoop en maklik om skoon
te maak. Regte hout kan ook 'n goeie keuse
wees, mits jy die hout teen water beskerm
deur badmatjies te gebruik. Gelamineerde
houtvloere sal nie goed werk in gedeeltes wat
baie klam is nie.
Slaap
Planne vir pakplek
As jy te platsak is om kaste te laat inbou, kan
jy gerus bekostigbare oplossings oorweeg
soos Woolworths se Get It Sorted-produkte op
ons foto's. Pepperplum vervaardig ook oulike
opstapelbare skoenbokse van polipropileen
wat jou skoene netjies sal hou.
Veiligheid
Die meeste vakansiehuise staan vir
die grootste deel van die jaar leeg,
en is dus 'n maklike teiken vir diewe.
Richard McGhee, verkoops-en-bemarkingsbestuurder
van ADT,
gee dié wenke:
Stel jou sekerheidsmaatskappy in
kennis wanneer jou huis leegstaan.
Verskaf ook inligting oor wie in die
nabyheid 'n sleutel van die huis het
wanneer noodgevalle opduik.
Moenie jou alarmkode naby die
alarmsleutelbord neerskryf nie.
Vra die bure om 'n ogie te hou
as jy nie by die huis is nie.
Wees diskreet wanneer jy inpak om
weer huis toe te gaan. Pak jou motor
in die motorhuis.
Maak doodseker al die vensters en
deure is gesluit wanneer jy vertrek.
Stut skuifdeure deur 'n stuk hout in
die skuifspoor te sit. Maak seker die
skuifdeure kan nie uitgelig word nie.
Installeer veiligheidshekke voor al
die buitedeure.
Moet nooit 'n sleutel in 'n deur los
wat agter glaspanele is nie.
Kry buiteligte met 'n tydtoestel.
Kliek hier vir ons galery.