deur Ettie Bierman
Die kafeteria is stil en Mercia sien hoe Sonja met teegoed na haar tafeltjie aangestap kom.
"Toe, vertel!" sê sy toe Mercia vir hulle skink.
"Ag, dis . . . sommer niks."
"Hoe lank is jy al aan hierdie fakulteit verbonde?" wil Sonja weet.
"Tien jaar? Ons is kollegas, en jý het my gebel en gevra ek moet jou hier ontmoet. Nou sê jy dis niks. Uit daarmee!" Sonja vryf oor haar maag. "Oor 'n week begin my kraamverlof, dan gaan ek my heeltyd doodbekommer oor jou."
Mercia neem 'n slukkie tee. "Jy sal seker dink ek is simpel."
"Pak uit. Ons is vriende, ons is sielkundiges en sielkundiges verstaan."
Mercia probeer haar gedagtes orden voordat sy dit hardop uitspreek. "Wil Albert terugkom?" raai Sonja. "Ag, hy's geskiedenis. Weet jy wat begin ek nou eers besef? Ek het deur my plakboeke geblaai. Gewoonlik is atletiekfoto's net van die wenner. Myne is byna almal saam met Albert – hy staan altyd half onopsigtelik vóór my, asof hy wil sê dis eintlik sý medalje, sý prestasie."
"Jy was dus maar net een van die trofeë wat hý gewen het?" sê-vra Sonja. Mercia knik. "Ek het dit begin agterkom. Sy verwyte en woedebuie toe ek begin verloor het . . . Hom terughê? Nee, asseblief nie. Dis net, e . . ."
Weer het Mercia nie woorde om haar emosies te beskryf nie. Maar dít weet sy met onfeilbare sekerheid: In die murg van haar beendere, diep daarbinne waar 'n mens se bloed gemaak word en jou geloof in dinge ontstaan, is daar 'n honger na 'n man-maat in haar lewe.
"Ek is... eensaam," erken sy sag – en dan tuimel die
woorde uit, soos water wat stroom en nie gekeer kan word nie. "Nadat ek geskei is en opgehou het met atletiek, het ek gedink ek kan my lewe weer vol maak met navorsing en die verhandeling. Ek het nou 'n doktorsgraad,'n dosentepos en 'n vet bankbalans,'n plakboek vol foto's en kaste vol medaljes en trofeë.Maar binnekant het ek niks. My lewe is steeds leeg."
Sonja se raad is saaklik: "Kry weer vir jou 'n man. Die beste middel teen eensaamheid! Ek weet, ek het ook tot amper te laat gewag."
"Dis nie só maklik nie. Jou Jurgen se soort is skaars."
"Ek weet, maar daar's nóg Jurgens. Gaan soek vir jou een."
"Hóé?"
"Begin sommer iewers met iemand praat. Wees vriendelik en kyk in sy oë. Jy het 'n mooi stem. Laat 'n man hoor wat binne-in jou is.'n Mens koop nie 'n viool voor jy weet hoe hy klink nie."
Sonja beduie met haar hand. "Kyk na al die mans hier om jou, en hier sit jy siel-alleen. Wat van daardie ou met die leerbaadjie? Hy lyk nie sleg nie . . ."
Mercia kyk en skud haar kop.
"Hy laat my aan Albert dink."
"Begrawe jou atletiek-spoke en kry Albert uit jou kop, anders gaan jy en die eensaamheid eendag saam in jou graf lê. Stof af jou Stradivarius en maak 'n bietjie musiek!"
Mercia kyk op haar horlosie en sit haar koppie neer. "Ek moet waai, ek het klas." Kan dit régtig so eenvoudig wees? Net praat? Wonder Mercia, nie baie optimisties nie.
'n Rukkie later staan sy op, haar gedagtes steeds wollerig. Die universiteit se atletiekbaan is dalk die aangewese begraafplaas vir atletiek-spoke en om haar kop skoon te kry. Maar die sweetpakke in haar kas is seker al muf en motgevreet?
Op die grasperk in die middel van die baan maak 'n paar atlete litte los,'n man is besig om verstellings te maak aan sy wegspringblokke en by die verspringput staan 'n afrigter by vier vroue in atletiekklere.
Niks het verander nie, besef sy. Die reuk van die gras, die sintetiese baan, die klomp oefenhekkies – alles nog dieselfde.Tog is sy verlig met die wete: Dit ontstel my nie meer nie. Dis net 'n atletiekveld.
Sy is besig met strekoefeninge toe sy bewus word van
iemand naby haar. Sy kyk om, en herken hom dadelik: Die man wat haar al 'n keer of wat in die kafeteria gegroet het.
"Mercia Mouton," sê hy en glimlag. "Jy het lank van die
baan af weggebly. Bang vir hom?" Sy beskou die man vlugtig. Dalk veertig, swart sweetpak, helderblou oë. En hy praat gemaklik, asof hy haar lankal ken.
"Maar net 'n oordosis gehad," reageer sy versigtig. Hy bied sy hand aan. "Ben van Zyl – al het ons mekaar darem al twee
keer gegroet."
"Aangenaam," antwoord sy styf, en wonder dan wat om by te voeg. "Sien jy daardie groepie?" Hy wys na 'n paar vroue wat in die pylvak spoedoefeninge doen. "Dis my spannetjie. Langafstanders. Hulle weet van jou en het netnou grootoog gestaan en kyk toe jy om die baan draf."
Sy is verbaas: Jong atlete wat haar nog onthou? "Hulle sal 'n paar wenke baie waardeer." "Ek is nie 'n afrigter nie," sê sy met 'n kopskud. "Dalk voel jy later anders, dan praat ons weer. Goed so?"
Sy knik. Op hierdie oomblik is die roering in haar so sterk dat sy byna belowe.
"My spannetjie wag. Sien jou weer." Hy maak 'n wuifbeweging
en draf weg. Sy hou hom 'n rukkie dop, besluit dan om halt te
roep en stap terug na haar motor wat sy agter die paviljoen
geparkeer het.
Toe sy die deur oopsluit, besef sy iets is fout. Die motor lyk half skeef? Sy staan 'n entjie terug, beskou shom en frons. Kan jy dit glo? Die regtervoorband is pap. Genade, dis iets wat sy nog nooit
voorheen gedoen het nie – 'n band omruil. Miskien eers die handboekie uithaal en lees . . .
Toe hou hy met sy motor langs haar stil en steek sy kop deur die
oop venster. "Pap wiel, sien ek. Seker 'n spyker. Kan ek help, of dring jy daarop aan om dit self te doen? In die TVadvertensie met die braaihoender sit die ou mos eenkant en kyk hoe die meisie die werk doen."
Sy glimlag, sy ken die advertensie. "As ek geweet het hoe, sóú ek. Dit lyk eenvoudig in die advertensie." "Kinderspeletjies, en die hoender is nie nodig nie," spot hy. "Ek help gou."
Sonder seremonie maak hy haar motor se kattebak oop en kyk binne. "Noodwiel, domkrag, wielsleutel – als hier. Behoort maklik te wees," voorspel hy terwyl hy die noodwiel uithaal en bekyk.
"Ek is jammer vir die moeite," sê sy rustig, bewus daarvan dat sy nie bot moet klink nie.
"En omdat jou vrou seker tuis vir jou wag vir aandete. Pak al die skuld op my." "Ek's 'n alleenloper en daar's nie 'n vrou wat wag nie."
Sy kyk hoe hy met die wiel werskaf en merk hy het mooi vingers met
skoon, kortgeknipte naels. Onverwags bloos sy en kyk anderpad.
"Jammer . . ." stamel sy.
"Oor wat? Dat daar nie 'n vrou is nie, of omdat ek alleen is?" Hy glimlag en Mercia besef sy oë is blouer as wat sy netnou gedink het.
"Nee, sommer net... Kan ek met iets help?" Sy voel verleë. Hoe antwoord 'n mens 'n vraag soos syne? "Staan net daar en gesels met my," sê hy.
"Vertel my hoekom jy skielik opgehou hardloop het. Jy was destyds die koerante vol, en toe eensklaps weg." "Ek het opgehou toe die medaljes se kleur begin verander het. Van goud na silwer en toe na brons. Die dag toe daar nie meer 'n medalje was nie, het ek geweet dis tyd." Sy haal haar skouers op. "En jy?"
"Ek? Bietjie gewerk in Kaapstad by die Instituut vir Sportwetenskap, toe my doktorsgraad hier klaargemaak... en nou rig ek die vroue af? en nou kan jy die boekie maar weer bêre,
jou tjor is weer op vier stywe wiele," beduie hy toe hy orent kom en sy
hande aan sy sweetpakbroek afvee.
"Baie dankie. Ek skuld jou," sê sy verlig toe hy die gereedskap in die kattebak laai.
"Ek weet."Hy grinnik – en nou merk sy sy egalige wit tande. "Jy het soveel talent, soveel ervaring om te deel, Mercia. Belowe jy sal nadink en kom help afrig. Dan is jou skuld betaal. Sommer hierdie week nog?"
dring hy aan.
"Ek sal na my dagboek moet kyk. Kan ek jou bel?"
"Asseblief. Of kom sê sommer self by my kantoor-cum-laboratorium, nommer 224. Hoofgebou, natuurwetenskappe.
Wanneer ek nie met atlete besig is nie, leer ek die studente 'n bietjie fisiologie.My naam is op die deur. Ben van Zyl."
Hy aarsel selfbewus. "Die lang relaas is om seker te maak dat jy nie vergeet nie. En my tyd te gee om te dink hoe ek jou kan ompraat."
"Probeer my omkoop. Koffie of 'n hamburger êrens sal dalk help." Sy skrik toe die woorde uit is. Dit was half 'n grap, maar was dit nie te voorbarig nie? Sy grinnik verbreed terwyl hy sy motordeur oopmaak.
"Ek sal geld gaps uit my omkoopbegroting? en ek wag vir jou inloer," sê hy voor hy wegry.
Mercia kyk sy motor agterna. Haar hart borrel soos 'n fontein. Iewers tydens hul gesprek, diep in haar onderbewussyn, het sy haar verbeel sy hoor vioolmusiek en het sy opgehou om eensaam te voel. Dalk kom daar niks hiervan nie, dink sy, maar nou het sy geleer hóé?
|