Daar's stukke hartseer wat sy altyd met haar sal saamdra. Maar as suksesvolle aktrise die afgelope 30 jaar los Brümilda van Rensburg die verlede agter haar
Deur Martie Swanepoel
Die meeste sepiesterre is beter bekend onder die naam van hul karakters. Nie Brümilda van Rensburg nie. Ons weet sy's al 17 jaar lank Louwna in Egoli, maar min mense gaan haar op straat voorkeer en sê: "Hallo, Louwna."
Want Brümilda bly Brümilda. Of Brüms vir haar vriende.
Trouens, jy sal ook nie sommer na haar as 'n sepie-aktrise verwys nie. Sy styg ver bo dié etiket uit. Sedert sy dertig jaar gelede vars uit die dramaskool van die Universiteit van Pretoria op die verhoog geklim het, was sy nog nie een dag sonder werk nie.
En op 50 smeul sy steeds, maar met 'n rypheid, grasie en 'n tydloosheid wat amper onregverdig is! Haar werk as aktrise dwing steeds gesag af, al het ons haar in 2003 laas op die verhoog gesien by die KKNK in Pieter Fourie se Die Koggelmanderman.
Vroeër vanjaar sou sy wel in die Suidoosterfees-stuk Sy't 'n ding oor liefde gespeel het, maar moes onttrek weens 'n belangrike storielyn in Egoli en kragonderbrekings wat verfilming vertraag het.
Haar suksesresep was nog altyd die pakket van goeie opleiding, talent, betroubaarheid en harde werk, meen sy. Te danke aan die fondament van dissipline wat sy in haar ouerhuis geleer het.
"My pa, Fanie, het ons geleer om alles goed te doen en dat niks vanselfsprekend is nie. Ek hanteer my werk elke dag asof dit die eerste keer is dat ek dit doen."
Franz Marx, uitvoerende vervaardiger van Egoli, beaam
dit: "Brümilda ontspan nooit oor haar werk nie. Sy is hoogs produktief op stel en verloor nooit die energie wat sy uitstraal nie."
Hy't dit al raakgesien toe sy nog student was. "Deel daarvan is beslis die stempel wat Anna Neethling-Pohl se deeglike opleiding destyds op studente by die dramaskool van die UP gelaat het. Sy het professionaliteit by hulle ingedril."
En Brümilda het nog nooit haar voorkoms afgeskeep nie. "Sy pas dit met harde werk soos oefening op, want dis deel van haar brood en botter," sê Franz.
Maar dit raak al hoe moeiliker, erken sy. "Ek het vanjaar by so 'n klomp goed betrokke geraak dat ek nie by die gymnasium kon uitkom nie. Voorheen het ek gesorg dat ek drie keer per week oefen."
Geestesgesondheid is vir haar net so belangrik. "Ek het ook af- en seer dae, maar sorg dan dat ek stil raak en myself tyd gee om heel te word."
Sy leef vir die hier en nou en glo aan vergewe en vergeet. "As iemand jou kwaad maak, neem hy onnodige plek in jou kop op. Ek laat dit nie toe nie."
Deel van haar filosofie van "vernuwing" beteken dat sy die verlede agter haar geplaas het, maar sy sê dit het haar
lank geneem. Daar ís stukke hartseer wat sy altyd met haar sal saamdra.
Soos die baba wat sy verloor het toe sy met die predikant Terblanche Jordaan getroud was. "Ek dink elke Moedersdag daaraan en dit maak steeds seer.
Ek sou bitter graag 'n ma wou wees, maar vandag besef ek ek is 'n ma van vele kinders vir wie ek 'n voorbeeld en rolmodel kan wees. Ook vir ander op wie se lewe ek daagliks 'n invloed het, en vir 'n familie en vriendekring vir wie ek kan sorg en bederf."
Sy en Terblanche is steeds goeie vriende. Sy is nie bitter oor haar huwelik "waar ek iemand vir wie ek lief was, moes laat gaan nie".
Ons almal maak soms foute en neem verkeerde besluite,
sê sy. "Die wonder en krag van alles lê daarin dat ons altyd 'n keuse het: Hoe ek gaan reageer, wat ek moet dink. Hoe ek
voel, wat om te doen."
Ná haar huwelik het sy een of twee keer weer met iemand
uitgegaan, maar "niemand wat die kers kon laat brand as die
krag trip nie".
Sy sal weet as die regte man kom, maar sy is tevrede met
haar lewe soos dit is. Die akteur Ian Roberts noem sy haar "pêl-liefde". Hulle het net ná universiteit uitgegaan en is ook steeds vriende.
Een van haar beste eienskappe, glo Brümilda, is dat sy
mense wil help. "Ek wil alles fix en dis hoekom my program oorlaai kan raak en dan trip die krag. Ek sê moeilik nee as daar 'n geleentheid is om mense te motiveer."
Tog is sy effens sku vir die sosiale kollig. "Ek is eintlik 'n skaam introvert." Maar dit weerhou haar nie daarvan om groepe vroue toe te spreek en betrokke te raak by projekte soos Huisgenoot se teenmisdaadveldtog nie.
"Elkeen van ons kan aan misdaad en ander se lewe 'n positiewe verskil maak." Sy gee ook graag raad en leiding aan jong akteurs op die Egoli-stel. En daar's haar dramaskool, waar sy kursusse aanbied
vir aspirant-akteurs.
Hendrik Cronje,Lukas in 7de Laan, is 'n produk van dié skool en sy is baie trots op hom. Brümilda mis soms die verhoog, maar by Egoli het sy 'n rustigheid en koestering gevind.
Lees meer in die Augustus-2008 uitgawe van Sarie.
|