| Sy het weekliks derduisende Idols-kykers geïnspireer met haar unieke stem. Maar wie inspireer háár?
deur Marguerite van Wyk
Eers die kollig van die Idols-verhoog, toe die teleurstelling van 'n tweede plek, al het baie kykers geglo sý moes eintlik gewen het. Maar 'n tweede plek kan óók 'n treffer oplewer.
Hou maar dié naaswenner van Idols 2007, Andriëtte Norman (21), dop en jou ore oop vir haar eerste CD. Sy's vanjaar beslis een van die trekpleisters by die KKNK.
Sy het haar eie stem gevind – en 'n sterloopbaan wag na alle waarskynlikheid vir haar in Johannesburg waarheen dié Kapenaar onlangs getrek het. En sy sien kans vir die glans. Sy skud haar blonde
kop en sê haar voete is ferm op Moeder Aarde.
Sy weet wie sy is. "As my ma bekommerd oor my wil raak, dan stel ek haar gou gerus. Ek gaan net my bes doen en sien uit na alles wat voorlê." Met haar vertolking van die Judy Garland-treffer "Somewhere over the Rainbow" en liedjies soos "Black Velvet" het sy die Idols-beoordelaars oortuig.
Selfs die uiters kritiese Randall Abrahams was uitgeboul. Sy's 'n bietjie Eva Cassidy, 'n tikkie Allanah Miles, selfs 'n skeut Barbra Streisand, maar op die ou einde 100% Andriëtte.
In elke mens se lewe is daar inspireerders op jou pad wat jou máák wat jy is. Wat die saadjies plant wat jou later laat deurdruk en aanhou, jou help om jou volle potensiaal te ontwikkel of jou 'n glimpsie gee van wat kán wees. Só het Andriëtte ook haar eie idols.
Op die kantlyn is internasionale sterre wat haar tot groot hoogtes aangespoor het: mense soos Madonna ("Kyk haar lyf!"), Barbra Streisand ("Haar stem bly ewig inspireer!") en Dana Winner ("Sy is só vroulik."). Maar nader aan haar hart is 'n paar wat uitstaan, háár idols.
Haar ma, Anita, haar musiekonderwyser op skool Anton Stadler, die Idols-beoordelaar Randall Abrahams en die sangers Nicholis Louw en Nianell. Vandag sê sy vir húlle dankie.
Andriëtte oor Nicholis Louw
"Hy is gefokus, gedissiplineerd, vermaaklik en hy hanteer sy bewonderaars met respek. Sy sexy bewegings en daardie rasper-stem dóén dinge vir my. Nicholis is so nice en verskriklik aantreklik. Eintlik heel mal, snaaks en talkative.
"Sy moves voor die kamera het my skoon rooi in die gesig gehad, maar ek was gemaklik by hom. Ek het soos 'n skoolmeisie gegiggel. Hy't my ook gevra of ek nie 'n ou het wat gaan jaloers wees as hy sien hoe ons moet pose nie?"
Nicholis oor Andriëtte:
"Ek het my fotosessie met haar geniet omdat sy lighartig en energiek was. Sy het 'n fantastiese persoonlikheid en sy het my heeldag aan die lag gehad. En haar glimlag... haar hele gesig lag saam. Ek dink met 'n stem en persoonlikheid soos hare het sy 'n blink toekoms. Suid-Afrikaners sal nie anders kan as om vir haar lief te raak nie. Sy's 'n ster!"
My ma, Anita
"Sy het haar hele lewe vir ons opgeoffer en ons altyd bederf. Saterdagaande wanneer ons partytjie gehou het, het sy Afrikaanse liedjies op die klavier gespeel en dan het ons saamgesing. Liedjies van Laurika Rauch, Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr.
"Sy is ook baie lief vir dans. By haar het ek geleer om musiek te geniét. Sy het my ook nooit gedruk om te presteer nie. Nou is haar raad aan my om nugter te bly oor die musiek-en-geldmakery van die Idols-roem – dat dit nie na my kop toe gaan nie. Maar sy het niks om te vrees nie. Ek sal my nie met "verkeerde dinge" ophou nie."
Anita sê:
"Dis wonderlik as jou dogter tevrede is met hoe jy haar grootgemaak het. Sy het nooit baie materiële dinge gehad nie, maar ek en hul pa, André, het elke sent probeer afknyp om hul talente te ontwikkel. As Andriëtte ongelukkig was dat sy dalk nie klere met etikette gedra het nie, het sy besef sy het die geleentheid om sang-, klavier- of gholflesse te neem.
"Ek wou nie roem vir haar hê nie. Dit het net so gebeur. Ek glo sy het so goed gevaar in Idols vanweë haar nederigheid, deursettingsvermoë en natuurlike talent. Nou hoop ek sy hou haar voete altyd op die grond en kyk op na die Here. Dán kan jy nie foute maak nie. Dis die waardes wat ek my kinders probeer inprent het. Iemand soos Jo-Ann Strauss kry dit goed reg. Sy is 'n celeb wat baie ordentlik gebly het ondanks haar roem."
Lees verder in die April-uitgawe van Sarie
|