TUIS | JY KAN HELP | KUBERKUIER | BOEKDINGE | E-BRIEWE | LEEF 100% | WEDSTRYDE | KONTAK ONS | TEKEN IN | ADVERTEER
GESELS
SAAM
REDAKTEURS-
BRIEF
ARTIKELS OP DIE
VROU AF
SKOONHEID MODE WOON-
IDEES
KOS & WYN OP REIS VERHALE
 
vorige artikels:
stem
Hoe hanteer jy kritiek in die werkplek?
 Ek leer deur my foute
 Ek raak kwaad
 Dit laat my voel ek is nie goed genoeg nie
 Dit moet opbouend wees
 
Heuning soet

Enige tyd is heuningtyd – ontbyt, teetyd en elke ander heerlike bederftyd.

Deur Barbara Joubert

Ontbyt
Ek het 'n dag oue rosyntjiebrood vir dié gereg gekoop,maar jy kan enige brood van jou keuse gebruik.

Franse roosterbrood

  • 9 snye brood
  • 250 ml melk
  • 15 ml heuning
  • 3 eiers
  • 2 ml fyn kaneel
  • 2 ml vanieljegeursel
  • sowat 50 ml botter

    *Sit voor saam met: vars lemmetjies, ekstra heuning en appelliefies

    Verhit die melk effens in 'n kastrol. Voeg die heuning by en roer tot dit goed gemeng is. Laat afkoel en voeg dan die eiers en kaneel by. Klits die mengsel goed. Gooi die mengsel in 'n plat bak wat groot genoeg is om die snye brood in te doop.

    Smelt 'n bietjie botter in 'n pan en doop so twee snye brood op 'n slag in die eiermengsel. Braai die brood 2 tot 3 minute aan weerskante. Hou dit warm terwyl jy die res van die brood braai. Smelt elke keer 'n bietjie botter voor jy die volgende sny brood braai. Sit voor saam met lemmetjies of vars suurlemoen.

    Gooi nog heuning oor en sit voor saam met vars appelliefies.

    Middagete
    Heuning-eendmet appels

  • Bêre jou heuning in 'n koel plek weg van sonlig en in 'n goed verseëlde bottel. Dit kan selfs gevries word.
  • As heuning kristalliseer, kan jy dit weer vloeibaar maak deur die bottel in warm water te verhit, of plaas in die mikrogolfoond vir 10 sekondes op mediumsterk krag. Onthou om die deksel los te maak sodat die stoom kan ontsnap.
  • Die kleur en geur van heuning word bepaal deur die tipe blom waarvan die nektar versamel word.
  • Donker heuning bevat meer voedingstowwe (proteïene, vitamiene en minerale) as ligter heuning.
  • Geroomde heuning word behandel om nie te kristalliseer nie.
  • Heuning is byna twee keer soeter as gewone suiker. 'n Driekwart koppie heuning is gelykstaande aan een koppie suiker.
  • Heuning loop moeilik uit 'n maatkoppie of maatlepels. Verhit heuning effens voor jy dit afmeet om dit makliker te laat uitloop.

    As jy nie eendborsies in die hande kan kry nie, kan jy gewone hoenderborsies gebruik. Jy sal maar self die hoenderborsies moet ontbeen, want jy moet die vel behou. (6 porsies)

  • 3 appels, gehalveer
  • 70 ml brandewyn
  • 1 ml fyn kaneel
  • 1 ml fyn gemmer
  • 170 ml heuning
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 6 vars salieblare
  • 15 ml olyfolie
  • 6 ontbeende eendborsies, vel net deurgesny
  • 100 ml hoenderaftreksel
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

    Verhit die oond tot 180 °C. Meng die gehalveerde appels, brandewyn, knoffel, kaneel, gemmer en heuning saam in 'n bak. Sny so 4 kepe in die eendborsies se vel.

    Dit moet net deur die vel gesny wees, nie diep in die vleis self nie. Verhit die olyfolie in 'n pan wat jy in die oond kan sit. Plaas die eendborsies velkant onder in die pan en braai vir so 5 minute voor jy dit omdraai. Braai vir nog so 5 minute. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper.

    Voeg die appelmengsel en hoenderaftreksel by. Laat dit vir sowat 5 minute kook en voeg die vars salieblare by. Plaas in die warm oond en rooster verder vir 25 – 30 minute tot die sous effens afgekook het. Sit voor saam met kapokaartappels. Dis veral lekker om die sous oor die aartappels te skep.

    Nagereg
    Baklava

    Die resep vra baie neute, maar dis juis wat baklava is – baie soet gegeur met heuning, en baie neute.

  • 200 g pekanneute
  • 100 g gepelde amandels
  • 100 g okkerneute
  • 100 g pistasieneute
  • 50 ml heuning
  • 50 ml strooisuiker
  • 10 ml fyn kaneel
  • 6 velle filodeeg
  • 30 – 40 ml botter, gesmelt

    Stroop

  • 450 g strooisuiker
  • 30 ml heuning
  • 300 ml water
  • 30 ml rooswater

    Begin deur die stroop te maak. Meng al die bestanddele daarvoor in 'n kastrol en bring dit tot kookpunt terwyl jy voortdurend roer (jy roer sodat die suiker kan smelt). Verlaag die hitte en laat die stroop vir 10 minute kook.

    Laat afkoel. Verhit die oond tot 160 °C. Kap al die neuter grof in jou voedselverwerker. Meng die gekapte neute met die heuning, strooisuiker en kaneel. Smeer 'n oondbak van so 50 cm x 30 cm met van die gesmelte botter. Begin lae maak met die filodeeg.

    Wanneer jy filodeeg koop, is dit altyd gevries, so jy moet seker maak dit is heeltemal ontdooi. Filodeeg is papierdun, hou dus die deeg heeltyd toe met 'n klam lap.

    Plaas een vel deeg in die bak en smeer met die gesmelte botter. (Die grootte van die bak wat ek gebruik het, is kleiner as een vel filodeeg. Jy kan die eerste vel dubbel vou.) Verf weer die filodeeg met gesmelte botter.

    Herhaal die proses tot jy drie velle gebruik het, al drie dubbel gevou. Gooi die neutmengsel in die bak en druk dit plat. Herhaal dieselfde proses met die ander drie filodeeg-velle bo-op die neutmengsel.

    Smeer die laaste laag met gesmelte botter en sny die baklava in diamant-vorms – die grootte wat jy verkies. Plaas in die warm oond en bak vir 20 minute.

    Verhoog die temperatuur tot 200 °C en bak verder vir 15 minute tot mooi bruin en bros. Haal uit die oond en gooi die stroop dadelik oor.

    Laat heeltemal afkoel voor jy dit uit die bak haal. Daar sal oortollige stroop in die bak wees, wat jy oor die baklava kan gooi wanneer jy dit uitgehaal het.

    Teetyd
    Heuning-en-vyekoek

  • 500 g droëvye
  • 200 g botter
  • 175 g strooisuiker
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • gerasperde skil van 1 lemoen
  • 4 eiers, geskei
  • 225 g meel
  • 5 ml bakpoeier
  • 5 ml koeksoda
  • 250 ml Bulgaarse jogurt
  • 100 ml heuning
  • sowat 50 ml ekstra heuning om bo-oor te gooi

    Voer 'n 23 cm-losboom-koekpan met bakpapier uit. Smeer of spuit die pan goed met 'n kleefwerende kossproei. Verhit oond tot 180 °C.

    Rangskik die vye onder in die pan. Klits die botter en suiker in 'n elektriese menger tot glad en romerig. Gooi die gerasperde skil by en meng goed. Voeg die eiergele by en klits die mengsel goed. Sif die meel, bakpoeier en koeksoda saam.

    Gooi by die bottermengsel en meng dit goed deur. Klits die eierwitte styf en vou die geklitste eier versigtig in. Skep die deeg oor die vye en bak in die oond vir 1 uur 15 minute. Net voor jy die koek uit die oond haal, verhit die 100 ml heuning effens.

    Wanneer die koek gaar is, haal uit en gooi die warm heuning dadelik oor. Laat staan vir so 15 minute in die pan voor jy die koek uitkeer. Gooi die ekstra 50 ml heuning oor die koek net voor jy dit voorsit. Daarmee saam kan jy mascarpone-kaas of styfgeklopte room voorsit.

    Geskenke vir Ma
    Heuning-koekies

    Bak dit as Moedersdaggeskenk. (ongeveer 40 koekies)

  • 185 g botter
  • 125 ml bruinsuiker
  • 125 ml geroomde heuning
  • 1 eier – 420 g (750 ml) meel
  • 5 ml kaneel
  • 2 ml bakpoeier
  • knippie sout

    Room die botter, suiker en heuning tot glad. Voeg die eier by en meng goed. Sif die droë bestanddele saam. Voeg die droë bestanddele by die bottermengsel en maak aan tot 'n stywe deeg.

    Vorm die deeg in 'n langwerpige fatsoen. Dit moet so 4 tot 5 cm in deursnee wees. Maak toe met kleefplastiek en laat staan vir 'n uur in die yskas. Verhit die oond tot 180 °C.

    Voer bakplate met bakpapier uit en smeer met gesmelte botter of spuit die papier met 'n kleefwerende kossproei. Sny die deeg in skywe van so 'n half cm dik. Plaas op die bakplaat en bak vir 10 minute

    Heuning-en-mosterd-slaaisous
    Dié slaaisous is 'n ideale geskenk, of jy kan dit self gebruik om 'n aartappelslaai te maak.

  • 125 ml wit balsemasyn
  • 75 ml heuning
  • 75 ml olyfolie
  • 15 ml korrelmosterd
  • 2 ml sout

    Voeg al die bestanddele saam in 'n bottel en skud goed. As jy dit vir 'n aartappelslaai wil gebruik, kook die aartappels sonder skil tot sag.

    Dreineer die aartappels en gooi die slaaisous oor terwyl hulle nog warm is. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper en laat afkoel.


  • ON WOMEN24 REGULARS ABOUT WOMEN24
    Home
    FREE Newsletter
    Competitions
    Love & Sex
    Books & Astrology
    Fashion & Beauty
    Careers & Money
    Pregnancy & Parenting
    Wellness
    Home & Away
    TV & Gossip
    Chat & Win!
    Competitions
    Book Club
    Horoscopes
    Soapies
    Columnists
    Blogs
    Cartoons
    Find restaurants
    Terms and conditions
    Contact Us
    Advertising