'Ek werk in die finansiële wêreld – 'n manswêreld. Maar jy hoef nie soos 'n man aan te trek nie. My styl is vroulik, elegant en klassiek. Ek's mal oor die nuwe romp-en-baadjiepakstyl.' –
Jeanette Marais, hoof: gespesialiseerde beleggingseenheid, Ou Mutual
Die rok is gróót modenuus en net reg as jy nie tyd het om te meng en pas nie. Dié oorkruisrok (R349) is van Michelle Harper. Die skoene met diamanté-detail is van Nina Roche.
'Ek dra graag 'n ongewone of ontwerp-item saam met klassieke style. Dis soos 'n vars bries in 'n korporatiewe atmosfeer.' – Debbie Lello, besturende direkteur van 'n media-agentskap
Laat jou klere van jou persoonlikheid getuig. Kies 'n uitsonderlike ontwerp-item soos die wit hemp (R1 800) van Black Coffee en dra dit met 'n klassieke romp of langbroek.
'Om altyd reg te lyk in die korporatiewe wêreld is 'n groot uitdaging. Ek verkies baadjiepakke, maar vind die somers (en winters!) al hoe warmer. 'n Baadjie met 'n driekwartmou is beslis die antwoord.' – Lynn Hart, bestuurder: mediaskakeling, JSE
Trek jy minder formeel aan by die werk? Dan is dié bloes (R590) van
Jo Borkett en wit romp (R999) van Habits net reg vir jou. Dra daarby 'n paar plat sandale of wighakskoene.
'Met 'n langbroekpak voel ek "aangetrek" en kan ek steeds rondom my pasiënte beweeg. Ek het 'n hele paar in my klerekas!' – Lona van der Walt,
mediese dokter
Die staatmaker-langbroekpak is dié winter weer hoogmode. Hierdie een is van Nanine Fine Wear (baadjie R1 322 en broek R672).