Sy het deur die jare álles denkbaar probeer vir haar verblindende migraines. Ná meer as 50 jaar is Christine Botha,ontwerper in SARIE se kunskantoor,nou verlos van die pyn – met 'n splinternuwe eetpatroon.
Soggens spring ek met 'n helder kop uit die bed... en dis onbeskryflik wonderlik.
Dit klink dalk nie na iets om oor opgewonde te raak nie, maar net 'n jaar gelede was die prentjie soveel anders: Ek in 'n donker kamer met ys op my voorkop.
Elke harde geluid 'n dolksteek deur my brein. Gesmelte yswater wat van my vuurwarm voorkop afloop en meng met my trane. Dan stoot die naar op in my keel en ek strompel badkamer toe.
Kan 'n mens ooit aan iemand wat nog nooit 'n migraine gehad het nie verduidelik presies hoe dit voel? Die dowwe, swaar kop wat geleidelik of skielik 'n intense, folterende pyn word. Dit maak jou rasend.
Jy kan nie fokus op wat om jou aangaan nie. Hoor en sien vergaan. Jy voel so ellendig dat jy net wil opkrul in 'n klein bondeltjie en wens jy gaan dood.
My hoofpyne het reeds op laerskool begin. Toe ek twaalf was, het die dokter gedink my oë is dalk die oorsaak, en ek moes bril dra. Ek het díe lelike bril gehaat, en toe ek later besef dit maak eintlik geen verskil nie, het ek dit 'verloor' – in die asblik!
Tydens my tienerjare het die hoofpyne vererger. Geld vir duur pille was daar nie en ek het met my spaargeld vir my hoofpynpoeiers gekoop. Op kollege het dit dikwels tydens die lang busrit huis toe gevoel asof my kop wou ontplof.
Ek het begin werk en die erge hoofpyne is as migraines geïdentifiseer. Ek is van dokter na dokter in my soektog na 'n wonderkuur. Keer op keer is 'n ander pil voorgeskryf – sonder welslae.
Oor die jare het ek alles oor migraines gelees. Ek het elke nuwe pil en raat probeer en elke moontlike opsie ondersoek: berge pille gesluk, die bitterste kruieblare gekou en die walglikste brousels gedrink.
In die proses het ek deurmekaar geraak met filosofieë soos 'mindpower', joga en transendentale meditasie. Elkeen met die belofte van oorwinning. Ek het gegryp na enigiets wat dalk uitkoms
sou bied. Niks het nie.
Ek was soos 'n drenkeling wat tevergeefs na die naaste stukkie opdrifsel gegryp het met die hoop dat ek gered sou word. Ek is nie van nature iemand wat bedruk voel nie, maar dit het my moedeloos gemaak dat níks wou werk nie.
Ek onthou hoe my migraines my op my eerste oorsese reis in vreemde situasies laat beland het. Ek lag nou daaroor, maar toe was dit allermins snaaks.
Dis erg as jy voel asof jy wil doodgaan en jy jou tussen mense bevind wat nie 'n idee het hoe jy voel nie (en dis onmoontlik om jouself te verskoon). Of jy is op 'n trein of bus en jy kan nêrens gaan lê nie.
In 'n bank in Toulouse, Frankryk, het ek vreemd begin voel. Skielik was net die helfte van alles waarna ek gekyk het sigbaar – 'n halwe paspoort,'n halwe geldnoot,'n halwe kassier agter die toonbank...
Ek het gelag toe ek na die een helfte van my metgesel kyk en haar daarvan vertel, maar ek het besef iets is nie pluis nie. Dit was 'n voorloper van die verblindende migraine wat later sou toeslaan.
Ander kere het daar sulke flitsende sigsag-patrone voor my oë geswem – my sig totaal en al belemmer. Later het ek uiteindelik 'n pynstiller ontdek wat nie my maag aangetas het nie en my nie lomerig laat voel het nie.
Dit het gehelp, want ek kon glad nie werk met 'n 'kop' nie, en ek kon nie elke keer huis toe gaan nie. Ek moes vroegtydig die pille drink sodra ek dínk 'n migraine is op pad (ek het seker dikwels onnodig medikasie geneem, want ek wou nie kanse waag nie).
Soms het ek te laat pille gedrink – en as die migraine so te sê al gevestig was, het dit vinnig tot die ergste graad vererger.
Dan moes die pyn homself uitwoed – wat gewoonlik sowat tien uur geneem het.
Slaap het my dan heeltemal ontwyk, maar soms het ek genadiglik in die vergetelheid van skone uitputting weggesink. Die volgende dag het ek gewoonlik soos 'n uitgewaste lap gelyk en gevoel. Heeltemal uitgemergel.
Daar was pille in elke handsak en beursie, in laaie, kaste en my motor – vir ingeval. Ek was nie verslaaf nie, maar ek was afhanklik (is daar 'n verskil?) en het dit gehaat.
Só het die jare verbygegaan...
Lees verder in die Mei-2008 uitgawe van Sarie.
|