Dankie vir Redakteursbrief
Ek lees my SARIE van voor tot agter, elke woord. Toe ek vandag Michélle van Breda se Redakteursbrief (SARIE, Maart 2008) lees, het ek 'n gevoel gekry dat ek uiteindelik nie alleen is nie.
Ek wil net dankie sê dat hierdie brief nie net opgevrolik is met positiewe motiveringswoorde en uitdrukkings van hoop vir die toekoms nie. So waar as vet, dis nie hoe ons en veral ek nou voel nie.
Ek is 'n Christen en ek ken The Secret, en oral in my lewe probeer ek altyd eers die positiewe kant sien. Dit maak dinge baie makliker.
Maar ek is nou kwaad en teleurgesteld en sommer net moeg. Oral waar ek my draai, word ons geklap met alles behalwe positiewe dinge. Pryse styg, die krag is nag, die geweld is buite beheer, en nou is daar gerugte van toekomstige waterprobleme... Ek is nou net moeg hiervoor.
Ek wil net een dag 'n gewone, normale dag hê en nie vir alles 'n plan hoef te moet maak nie. Maar ek het die kragopwekker gekoop én reeds gebruik. Ek het die gloeilampe gekry. Ek gebruik my tuimeldroër minder, bêre warm water in 'n fles en skakel die warmwater-toestel af. Ek maak dus 'n plan.
Maar ek is moeg vir planne en ek wil net dankie sê dat ek maar so mag voel. Ons doen ons deel, ons betaal belasting, ons bly in die land terwyl ons familielede emigreer, ons skep werk, maar nou, aan die begin van 2008, wil ek net bietjie voel soos ek voel, sonder om skuldig te voel.
Carla Pattison
Midrand
My grootste waagstuk op 56...
My skoondogter het vir my 'n pakkie Suid-Afrikaanse produkte gestuur vir my verjaarsdag in Oktober verlede jaar. Maar pos-administrasie hier in Koeweit is bitter stadig, en dus het mý Oktober eers in Januarie 2008 aangebreek. In my pakkie was ook die Oktober 2007-SARIE, en ek het die artikel oor "Waag & leer ken die ware jý" baie geniet. Dit het my geïnspireer om julle van my grootste waagstuk te vertel.
Op die ouderdom van 56 het ek, ná elf jaar as hoof van 'n private skool in Gauteng, bedank. Hoewel ek my werk uiters bevredigend gevind het, het die direkteure van die skool my lewe onaangenaam gemaak dat ek alle plesier van my beroep ontneem is.
Ek het al my besittings in Suid-Afrika verkoop en in Augustus 2000 na Londen vertrek, waar ek as gewone onderwyseres by 'n "inner London city" begin werk het. Ek het drie jaar in Engeland skool gehou. Die ondervinding daar kan ek in drie letters opsom: HEL!
Ek het 'n geleentheid in Koeweit gesien en soontoe verhuis. Dis nou my vierde jaar hier en ek beoog om nog drie jaar hier te bly.
Dit was 'n reuse-waagstuk om op daardie ouderdom Suid-Afrika te verlaat en nuut te begin. Baie dae was ek in sak en as oor my onseker toekoms, maar as mens het ek geweldig gegroei.
My lewe, asook my persoonlikheid en lewensvisie het totaal verander toe ek nie meer in my gemaksone was nie – toe daar nie familie en vriende was om te help nie. As ek in SA gebly het, sou ek waarskynlik nooit met sekere probleme gekonfronteer gewees het nie. Sake sou maar net hul gewone verloop geneem het.
Ek moes dikwels standpunt inneem en moeilike besluite neem, en dit het my as persoon verryk. My lewensuitkyk en begrip van wêreldgebeure het geweldig verbreed.
Op 63 is ek trots op myself ondanks die opofferings om kinders en familie agter te laat. Mens vergeet die dae van pyn en waardeer die sukses van die totale ervaring.
Margaretha Morgan
Koeweit
SARIE-geskenk handig op berg-ekspedisie
Ek het met SARIE (Marais) in die huis grootgeword en lees dit gereeld, veral om tred te hou met die nuutste neigings. Trouens, ons is "kallers" van dieselfde jaar – dieselfde ouderdom – maar saam met SARIE kon ek ook jonk van gees bly.
Ek besoek die SARIE-stalletjie by die Volksblad Kunstefees verlede jaar in Bloemfontein en kry 'n sterk plastiek-rugsak vol verrassings saam met my SARIE. Wat 'n handige geskenk was die piepklein toevou-haarborsel/spieëltjie nie!
Ek stap en klim berg, en moet gewoonlik alles dra wat noodsaaklik is vir oorlewing tydens die hele ekspedisie. 'n Spieël was nog nooit hoog op enige lys van lewensnoodsaaklikhede in die berge nie (ons dra dus baie kort kapsels).
Met ons onlangse besoek aan Rusland om onder meer Mount Elbrus, die hoogste berg in Europa, te klim, moes ons boonop ook tente dra. Ten spyte daarvan kon ek myself die absolute luukse veroorloof om nie net 'n haarborsel nie, maar ook 'n spieëltjie byderhand te hê.
Baie dankie, SARIE, vir die groot bederf. Die kersie op die koek was die
handsakgrootte-SARIE, wat ek op die vliegtuig kon lees, want ons swaar toerusting veroorsaak altyd 'n gewigsprobleem.
Suki van Niekerk
Bloemfontein
SARIE – my twee dae lange genot!
Dit gebeur elke drie maande. Ek kuier by rolprentsterre, bekendes en bemindes en leer mense soos Nataniël ken. Ek reis in verre lande rond, smul aan allerlei geregte. Ek hou modeparade en gaan vir salon-behandelings, grimeersessies en haarbehandelings.
Dan kom my huis aan die beurt. Dit word versier volgens die jongste neigings. Ek leer iets nuuts soos internet-gebruike en 'n gesonde leefwyse.
Al dié wonderlike goed gebeur met my wanneer my vriendin haar tydskrifte by my aflaai. Ek sorteer dit, van die skinderblaaie tot by my gunsteling, soort by soort, in datum en in volgorde. Die hoogtepunt is wanneer ek die drie SARIE's vat, die beste tydskrif van almal!
Dankie, SARIE, jy sluit gewoonlik my twee dae lange leesgenot af. Heerlik en verruklik!
Ria Fourie
Annlin, Pretoria
My seun skep toekoms in vreemde
Op 16 Januarie 2008, soos twee keer in die vorige twee jaar, neem ek afskeid van my seun. Hy's 20 jaar oud en werk in die vreemde in 'n poging om vir hom 'n beter toekoms daar te skep, vry van diskriminasie.
En met elke afskeid gaan ek 'n klein bietjie dood, soos 'n digitale foto op 'n rekenaarskerm wat stadig, pixel vir pixel, opbreek en in stukkies wegfladder.
Ek het hom gegroet op sy eerste skooldag toe hy met hartseer en bang ogies aan juffrou se hand weggestap het. Ek onthou daardie eerste aflaai by die nuwe hoër skool en koshuislewe, baie kilometers weg van sy ouerhuis af.
En nou het ons weer eens afskeid geneem, vir 'n onbepaalde tyd in 'n onseker wêreld vol van allerhande bedreigings. Sy houding fier, selfstandig, blymoedig en tog... 'n onbeskryflike angstigheid. Die geborgenheid van huis en haard, van watter aard ookal, is net nie daar waar hy gaan wees nie.
Cueca Solo (They dance alone) vertel Sting se liedjie. 'Mothers dancing with the invisible ones... they're dancing with their fathers, dancing with their husbands, dancing with their sons... dancing with the dead... their anguish is unsaid. They dance alone', lui die lirieke onder meer. En dis nie net die dood wat ons alleen laat voel nie.
Die swart moeders en vrouens van die stads- en mynwerkerskorps in die pre-vyftigs moes ook so gevoel het, soos blyk uit Alan Paton se Cry, the Beloved Country.
Wel, die land huil steeds. Die Grondwet word net 'n stuk papier, want misdaad, korrupsie, nepotisme, dwelm- en drankmisbruik en mishandeling van vroue en kinders vier hoogty. Huisgesinne word uitmekaar geskeur. Ons word al hoe armer, letterlik en figuurlik.
En mammas soos ek gaan daagliks 'n klein bietjie dood.
Willemina de Wet
Swellendam
Waar is jy, my kind?
My seun, die verlange en bekommernis na jou is vandag vir my baie erg!
Dis 'n oorheersende gevoel wat ek moeilik kan beskryf. Iemand by die werk het dit vanoggend so raak beskryf toe sy sê eintlik is ek in 'n rouproses! Die verskil is net jy is nie dood nie en ek kan nêrens vir jou gaan blomme neersit nie.
Jy is net weg – op 20 het jy besluit ons liefde en omgee vir jou is nie meer goed genoeg nie. Ons Christelike opvoeding het vir jou te veel geword. Nou sluk ek elke oggend 'n pilletjie, bid vir krag en genade om deur die dag te kom. Bedags huil ek saggies in my hart, en snags druk ek my hortende snukke in my kussing om nie die res van die gesin te ontstel nie.
As ek daardie aand geweet het dis die laaste keer dat ek jou sou vashou, sou ek jou bietjie langer in my arms gehou het... nog 'n keer gesê het ek is lief vir jou.
Ek is veronderstel om te weet jy bly by jou tannie, maar jy kon net so wel die wye wêreld ingevaar het, want ons weet steeds niks van jou af nie. Ek weet nie hoe jy soggens by die werk en saans by die huis kom nie.
Ek wonder of jy by hulle en by jou meisie se ouers ook so onaangenaam is wanneer jy saans moeg van die werk af kom. Ek wonder of jy hulle ook so behandel soos jy ons die afgelope ses maande behandel het. Om die waarheid te sê, wonder ek wie jy is. Ek ken jou nie meer nie. Jy is nie die kind wat ons met soveel liefde, ondersteuning en dissipline probeer opvoed het nie. Jy was altyd my trots, my steunpilaar. Ek kan nie help om te voel jy is van ons gesteel nie. Ek voel verraai en bedrieg.
Ek wil nogtans vandag vir jou sê ons harte, ons arms en ons huis se deur is oop indien jy besluit om eendag terug te kom. Intussen dra ek en pappa en jou broers jou in ons gebede aan die Here op om in al jou behoeftes te voorsien en om jou veilig te hou!
Mamma, Pappa en jou twee broers
Pretoria
Vakansieganger, wees tog vriendeliker
Die Kersinkope is iets van die verlede, maar dink ons vir een minuut aan diegene aan die ander kant van die toonbank? Hoe ervaar húlle die geharwar en hoe word húlle behandel vir hul goeie diens? Ek is een van die minder gelukkiges wat nie met vakansie was nie, want ek was agter die toonbank. Hier is my ervaring...
Ai, Mevrou, waarom hou jy jou so vernaam? Waarom dink jy jy mag 'n uitbarsting in ons winkel hê as ons nie jou nommer in daardie spesifieke broek het nie? Hoe is dit dan dat jy voel ons moet jóú soort musiek speel en laat jy dan kliphard hoor dat "hierdie musiek mens mal maak"?
Jy stap ons vakansiedorp binne met jou houding van hier-wil-ek-bedien-word en voel niks vir die mense agter die toonbanke nie. Jy dink duidelik dat jy maar onvriendelik kan wees, dat jy mag sê wat jy wil en hoe jy wil, dat jy klere bo-oor die relings kan hang pleks van terug op die hanger en dat jy my glad nie terug hoef te groet nie – selfs nie wanneer ek jou in jou oë kyk en hard praat nie. Jy sien hoe die bikini-top op die vloer val en jy los dit net so. "Ekskuus tog, Mevrou. Kom ek tel dit gou vir jou op", en jy sê nie eens dankie vir my of vra om verskoning nie.
Dink jy ek en die res van my span is ongeletterd dat ons nie jou dankie of asseblief of glimlag verdien nie? Dink jy dis vir ons lekker om so behandel te word, of dink jy nie eers twee keer daaroor nie?
Ons woon op 'n pragtige vakansiedorp by die see en ons word oorval deur vakansiegangers. Dis heerlik om almal in die winkel te sien gesels, hoe bly hulle is om mekaar ná soveel jaar raak te loop, om die opgewondenheid in almal se stemme te hoor oor die son wat so lekker skyn en waar hulle die aand gaan braai.
Ja, daar is suurknolle wat al jare hier woon wat kla oor die min parkering voor die sentrum en hoe besig die strate is. Die res van ons geniet die andersheid, die tinteling in die lug – selfs al is ons van halfagt in die oggend tot halfsewe saans binne vier mure om klante met hand en voet te bedien. Ons weet nie eens wanneer die wind begin waai of die lug toetrek nie, want om in die vakansieseisoen middagete te neem, is net nie moontlik nie.
Mevrou, ons probeer so hard om jou tevrede te stel, ons bestel derduisende rande se ekstra voorraad in die hoop dat dit genoeg gaan wees, en ons werk so lank as moontlik om te probeer verseker dat jy ál jou Kersinkopies kan doen. Ons kyk langtand na jou wat so lekker saam met jou gesin of jou hele familie kan vakansie hou. Ons weet skaars dat ons af is op Kersdag, so pyn ons voete.
Ons weet dis ons werk, ja. Ons weet ons kry ons salaris. Maar die feit van die saak is dat dit glad nie opmaak vir verlore tyd nie. Dink jy ooit daaraan dat ons feitlik nooit Desember-vakansie saam met ons geliefdes kan wees nie? En is dit dan nie juis waaroor hierdie seisoen eintlik gaan nie? Gaan Jesus-liefde nie onder meer oor besondere verhoudings nie? Is dit nie ook oor liefde, aanvaarding en empatie nie?
A nee a, Mevrou. Hou op met jou aanstellerigheid, jou hooghartige houding en glimlag eerder vir almal agter die toonbank. Sê dankie vir die sjokolade of suiglekker wat ons met 'n groot glimlag vir jou uitdeel wanneer jy effens te lank na jou sin in die ry staan! Tel maar die ou kledingstukkie van die vloer af op – ek sal dit nog steeds op die hanger sit. Of sê dankie vir my wanneer ek dit namens jou by jou voete optel. Jý is immers met vakansie! Ontspan, geniet elke oomblik. Wys dat jy empatie het met die mense wat dag ná dag werk om jou vakansie vir jou lekkerder en makliker te maak!
Wys dat jou hart nog goed is – soos dit veronderstel is om te wees.
Belinda van Vuuren
Jeffreysbaai
Getroud ná ernstige siekbed
Ons het as studente op Stellenbosch ontmoet. Hy het my uitgevra in Nerina-vrouekoshuis se vierkant nadat hy Book of Love voor my kamervenster gesing het.
Kort daarna is ek Londen toe. Ons het mekaar vir 9 maande nie gesien nie. Ons albei het daardie jaar baie wyser en sterker mense geword. Vier maande nadat ek terug was in Suid-Afrika, het Matthew my gevra om hom te vergesel na een van sy vriende se verjaardagpartytjie op Clifton-strand. Ons het afgestap strand toe. En daar, om 'n groot rots, op 'n plat klip halfpad in die water, was 'n kombers, piekniekmandjie en kerse. Daar was toe gaan verjaardagpartytjie nie – net ek en hy! Teen sonsondergang het hy voor my gekniel en my gevra om sy vrou te wees.
Maar vier maande voor ons troue is ek met breinbloeding in die hospitaal opgeneem. Die voorbehoedpil, wat ek toe vir 'n maand gebruik het, het bloedklonte veroorsaak. Die behandeling wat ek daarvoor gekry het, het my brein laat bloei.
Ek was heeltemal verlam. Die een kant van my gesig het gehang, ek kon nie praat nie, ek kon nie my kop op die kussing draai nie. Ek is met 'n spuitnaald gevoer en kon nie eens my ooglede toemaak nie. Volgens die dokters was daar 'n moontlikheid dat ek nooit weer sou herstel nie. Indien wel, sou dit tot twee jaar of selfs langer duur.
Mense, by kerke, regoor die land het vir my begin bid. Terwyl ek nog in die waaksaal gelê het, het ek beloftes van God gekry (deur drome en visioene, wat deur meer as vyf verskillende mense bevestig is) dat ek die paadjie gaan afstap om te trou.
Vier maande later het ek my bruidegom voor die kansel ontmoet – 'n wonderlike man wat my deur dik en dun bygestaan het. My herstel is 'n bewys van God se ongelooflike krag om die onmoontlike te doen. Hy is groter as enige situasie.
Christelle Fourie
Vredehoek, Kaapstad
Mense kán krag bespaar
Ek het 45 jaar in Suid-Afrika gewoon en in groot besighede, in die bediening en elders gewerk. Ek is dus seker van my feite as ek sê mense bring die kragkrisis oor hulself.
Bestuurders en hul werkers verlaat Vrydae hul kantore vir die naweek sonder om die ligte en kragtoestelle af te skakel. In pastories en dokter-spreekkamers gaan dit dikwels ook so. Ek het dit self gesien.
Baie mense staan soggens op as dit nog donker is, en vergeet om die ligte af te skakel as hulle werk toe gaan. Kinders los hul slaapkamer- en badkamerligte aan. En die tuinligte brand heeldag.
Warwaterkrane word wyd oopgedraai en eers weer toegedraai wanneer die water by die deur begin uitloop. My eie oë het dit aanskou!
Baie dankie aan al die omgee-Suid-Afrikaners wat krag bespaar.
Mari le Roux
Namibië
|