|
Vraag: kinderkoeke
My seuntjie word 1 jaar oud. Enige resepte vir 'n maklike kinderkoek. Ek reël ook 'n sop aand vir sy partytjie vir die oumas en oupas. Ek is opsoek na 'n lekker mosselsop resep, iets soos mossels in 'n witwynroom sous.
Antwoord: Roomknoffelmossels
100 g botter
100 g meel
200 ml melk
100 ml room
50 ml droë witwyn
halwe ui, fyn gekap
125 ml gekapte pietersielie
12 mossels in skulpe
1. Braai ui en knoffel in 12.5 ml botter. Hou eenkant.
2. Smelt die res van die botter, voeg meel by en roer tot 'n roux. Gooi melk stadig by en roer goed om 'n gladde sous te maak.
3. Voeg wyn en room by. Roer goed. Voeg die gebraaide ui en knoffel by.
4. Sit mossels skulp en al in die sous en laat vir 10 minute prut.
5. Geur met sout en peper. Gooi gekapte pietersielie by en sit voor met growwe bruin brood.
Kinderkoek
Sponskoek: Dis 'n basiese sponskoek wat gebruik word vir gevulde koeke, verjaardagkoeke, ystervarkies ens.
4 eiers
125 ml strooisuiker
2,5 ml vanilejegeursel
250 ml koekmeelblom
60 g botter, gesmelt en afgekoel
1. Voorverhit oond tot 180 grade. Smeer 1 losboomkoekpan (200 mm) en voer bodem uit met gesmeerde bakpapier
2. Plaas eiers, strooisuiker en vanieljegeursel in hittebestande bak soos glasbak oor 'n ander bak met warm water. Die bak waarin eiers is, mag nie aan warm water raak nie. Die stoom is voldoende om eiers en suiker te laat verdik. Klits met draadklitser tot ligte kleur en tot volume verdubbel het. Dit sal sowat 7 minute neem.
3. Verwyder bak met eiermengsel van bak met warm water en klits tot mengsel afgekoel en baie dik is. Vou meel in, gevolg deur botter.
4. Gooi beslag in koekpan, en bak vir 20 - 30 minute tot gaar. Keer uit en laat afkoel.
|