|
|
|
|
KOS & WYN - VRAAG & ANTWOORDE |
|
|
Vraag: Watter disse kan ek voorsit vir my Valentyn?
Watter disse kan ek voorsit vir my Valentyn? Ek wil 'n voorgereg, hoofgereg en spesiale nagereg maak wat hy nie sommer sal vergeet nie. Enige interessante cocktail ingedagte wat ek kan maak om 'n romantiese atmosfeer te skep?
Antwoord: Bederf jou Valentyn met 'n heerlike aansit-ete. Besluit op 'n kleurskema en dek 'n romantiese tafel buite in die tuin met blomme, kerse en dalk 'n geskenkie of twee. Vir voorgereg stel ek 'n gemarineerde seekosslaai voor wat jy 'n dag of wat voor die tyd kan maak en met vars brood voorsit. Verras jou geliefde met 'n hoenderpakkie, geroosterde groente en vars slaai. (Om 'n hoenderpakkie te maak: vou 'n stukkie bakpapier in die vorm van 'n sakkie, sodat dit dig kan bly. Geur en braai hoenderstukke tot goudbruin, plaas 'n gebraaide hoenderporsie in elke sakkie, bedruip met 'n bietjie wit wyn, vou deeglik toe en bak teen 180 grade celsius vir 30 minute.) Plaas 'n hoenderpakkie op elke bord, skep 'n porsie groente en slaai by en skeur die sakkie oop aan tafel. Vir nagereg: Bessie-en-eiervla. Hierdie gereg kan jy ook voor die tyd berei: skep bessies, vla en neute in lae in 'n lang glas en garneer met vars mentblare.
Hier is 'n heerlike resep vir 'n skemerkelkie. Rooi mengeldrankie: Jy benodig ysblokkies, 1 bottel droë rooi tafelwyn, verkoel, 30 ml sjerrie, skil van 'n suurlemoen, strooisuiker na smaak, 175 ml sodawater, yskoud.
1. Plaas 'n groot mengbak in 'n bak met ysblokkies en giet rooi wyn daarin.
2. Voeg sjerrie, suurlemoenskil en suiker by. Haal skil uit net voordat geskink word en voeg dan sodawater by. (Bron vir skemerkelkie: Kook en Geniet, volledige hersiene uitgawe deur S.J.A. de Villiers, Human & Rousseau, 2000) |
|
|
|
|
Het jy enige KOS & WYN vrae? Gebruik die vorm hier onder om jou vraag te plaas.
|
|
|
|
|
|
|
|